Die ongelukstoneel op die N1 gisteraand. Foto: MJ Towing

‘n Ernstige botsing het Sondagaand (7 September) omstreeks 19:45 op die N1-snelweg in die Paarl gebeur toe ’n motoris glo in die verkeerde baan in aankomende verkeer gery het.

Volgens Kurt Maske, ’n ER24-paramedikus wat op die toneel was, was vier mense in die tromp-op botsing betrokke – twee volwassenes en twee minderjariges. Een minderjarige is in ’n kritieke toestand, terwyl die ander ernstige beserings opgedoen het. Geen sterftes is aangemeld nie.

Die ongeluk het, volgens Maske, naby die Jan van Riebeeck-afrit gebeur. Hy het verduidelik dat hy kort ná die oproep, wat hy omstreeks 19:45 ontvang het, op die toneel was en onmiddellik bystand aan die kritieke beseerde minderjarige gebied het.

’n Ooggetuie het aan Paarl Post gesê die botsing het in die rigting van Kaapstad plaasgevind. ’n Volkswagen Polo, wat glo in die verkeerde baan gery het, het naby die Graceland-waterpark op die N1 teen ’n Audi gebots.

Paarl Post het navraag by die Paarl-polisie gedoen, maar geen terugvoer ontvang nie. Die koerant wou onder meer vasstel of die Polo-bestuurder moontlik onder die invloed van alkohol was en of enigiemand in hegtenis geneem is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article