Die Drakenstein-regspraktisynsvereniging of Drakenstein Legal Practitioners’ Association (DLPA) in Engels is verlede Vrydag (5 September) by ‘n geleentheid by die Smul-restaurant op Diemersfontein in Wellington amptelik bekendgestel. Hierdie nuutgestigte vereniging bied ‘n platform waar regspraktisyns van die Drakenstein-vallei kan saamwerk en hul belange kollektief verteenwoordig word.
Volgens Bertus Snyman van Snyman Prokureurs in die Paarl, en ook voorsitter van die vereniging, is die DLPA, wat tans in ‘n “vestigingsfase is” gestig met die doel om professionele ondersteuning aan regspraktisyns te bied, gemeenskapsregonderrig en -bewusmaking te bevorder, en met die plaaslike howe sowel as die Wes-Kaapse Regspraktykraad te skakel oor kwessies wat plaaslike prokureurs raak.
Snyman het verduidelik dat lidmaatskap tans vrywillig en kosteloos is.
Die DLPA is formeel in Februarie vanjaar gestig en die eerste jaarvergadering word in November gehou. Die vereniging het reeds ongeveer 50 lede.
Volgens Snyman beoog die vereniging, wat tans uit ses komiteelede bestaan, om ook ‘n “prokureur-vir-‘n-dag”-inisiatief van stapel te stuur. Deur hierdie program sal ervare regspraktisyns op ‘n roterende basis by howe in die vallei beskikbaar wees om die publiek van algemene regsadvies te voorsien. Hy beklemtoon egter dat die inisiatief nie gratis regsverteenwoordiging aan individue bied nie, maar uitsluitlik gemik is op algemene regshulp en leiding.
Die vereniging se eerste groot vergadering vind binnekort plaas, waar gesprekke met plaaslike rolspelers soos die howe, die polisie en die balju op die agenda is.
Die ses komiteelede wat die DLPA bestuur, sluit in Bertus Snyman van Snyman Prokureurs in die Paarl (voorsitter), Razine Adams van Adams Prokureurs in die Paarl (ondervoorsitter), Lusharno Styles van Faure & Faure Inc. in die Paarl (tesourier), Niel du Plessis van Duvenage & De Villiers Prokureurs in Wellington (sekretaris), Werner Schweidler van L. Basson Prokureurs in Wellington (komiteelid) en Dillon Plaatjies van Faure & Faure Inc. in die Paarl (kandidaat-regspraktisyn en komiteelid).
Enige regspraktisyn of kandidaatregspraktisyn wat in die Drakenstein werk mag ‘n lid word en kan vir Snyman kontak deur e-pos te stuur na info@dlpa.co.za om ‘n aansoekvorm te bekom. Die DLPA werk tans aan ‘n webtuiste.





