Charl Williams
Wellington kan met trots terugkyk op een van sy eie se merkwaardige prestasies op die internasionale verhoog. Franklin van Wyk, oorspronklik van die plaas Hexberg net buite Wellington, het onlangs saam met die SA o.20- Junior Springbokke die Wêreldbeker in Italië gewen. Die span het die Jong All Blacks in die eindstryd geklop en die goue trofee ná 13 jaar weer huis toe gebring.
Van Wyk, beter bekend as “Franky”, het sy skoolloopbaan by Wellington Primêr begin en aan die Hoërskool Bergrivier gematrikuleer. Vandag is hy die logistieke bestuurder van die Junior Springbokke – ‘n rol wat hom reeds 18 jaar lank in die rugbywêreld hou.
“Dit was vir my ‘n ongelooflike eer en voorreg om deel van so ‘n internasionale toernooi te wees,” sê Van Wyk. “Om gekies te word om jou land op wêreldvlak te verteenwoordig, is iets wat min mense kan sê of ervaar. Die spesiaalste oomblik was toe ons die beker kon lig en toe ek my Springbokbaadjie ontvang het.”
Van Wyk is getroud met Audrey, en hulle het twee kinders: Akeshia en Hezekiah. Sy loopbaan het as logistieke bestuurder by Boland Rugby begin. Daarna het hy hom by die SA Rugby Akademie in Riebeek-Kasteel onder leiding van die legendariese Alan Zondagh aangesluit. Hy werk nou al nege jaar by die Stellenbosch Academy of Sport.
Sy dagtake behels alles van veldvoorbereiding tot toerusting, water, aanvullings en oefenklere.
“Ek glo ‘n logistieke mens is een van die belangrikste in enige span. Alles begin en eindig by logistiek – dit verg deeglike beplanning en ‘n goeie kontrolelys,” verduidelik hy.
Van Wyk se grootste beloning is nie medaljes nie, maar om te sien hoe spelers hul drome bewaarheid. “Ek het saam met baie van hulle van die EPD-program, deur die akademie, Junior Bokke en nou selfs tot by die senior Springbokspan gewerk.” Sy droom? “Om saam met die senior Springbokspan aan ‘n Wêreldbeker deel te neem.” Hy sluit af met ‘n inspirerende boodskap aan jongmense: “Niks is onmoontlik nie. Moet nooit ophou droom nie. Maar elke droom vra harde werk en dissipline.”





