Twee wêrelde in een het Woensdag 23 November uitslae gelewer in die tussenverkiesing in Wyk 17.

Die middelklas- en oorwegend Afrikaanssprekende deel het met ’n duidelike twee derde meerderheid die VF Plus-kandidaat, Pierre du Toit, bo die DA verkies wat hulle net eenvoudig nie langer tevrede stel nie.

Die ander landelike deel, hoofsaaklik verteenwoordigend van plaaswerkers en enkele boere, het steeds oorweldigend vir die DA-kandidaat gestem. ’n Mens wonder hoekom hierdie kontras?

Is dit eenvoudig omdat die dorpsgebied afhanklik is van munisipale dienste-lewering van die DA beheerde Drakenstein-munisipaliteit (DM) waarvoor hulle ten duurste betaal en wie hulle faal? En aan die ander kant, die plaaswerkers wat totaal afhanklik is van die landbousektor vir hul behuising en normale munisipale dienste soos water, elektrisiteit, riool, vullisverwydering en nie negatief geraak word deur DM se dienslewering nie, sodat hulle solied DA gestem het en dit nie besef nie.

Die dag sal kom, as hulle hul werk sou bedank, of by aftrede kom en uit diens tree, en aangewese sal wees op die DA-beheerde DM vir akkommodasie, en hulle dan moet kompeteer met die duisende migrante van elders wat Drakenstein toestroom en in haglike plakkerkamp-toestande aangewese gaan wees, sodat ’n T-hemp en ’n kospakkie nie meer genoeg gaan wees nie.


André Fourie,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article