‘n Bejaarde man en vrou is in die vroeë oggendure van Saterdag 2 Augustus met ernstige beserings gehospitaliseer toe drie gewapende rowers by ‘n gastehuis naby Uitkykstraat in Franschhoek ingebreek, en die paartjie aangerand en van verskeie besittings beroof het.
Paarl Post verstaan dat die drie rowers kort ná middernag toegang tot die gastehuis verkry en dadelik die paartjie glo aangeval het.
Hul aanvallers was na bewering met hammers en pangas gewapen en hul gesigte met maskers bedek, het kol. Frederick Rossouw, bevelvoeder van die Franschhoek-polisiekantoor, by navraag gesê.
Die rowers het na bewering die paartjie in ‘n vertrek toegesluit voordat hulle met verskeie items vanaf die toneel gevlug het.
Die verdagtes is nog op vrye voet, het Rossouw bevestig.
Volgens Rossouw ondersoek die polisie ‘n huisroof.
Hy sê die twee bejaardes se verklarings moet nog deur die polisie geneem word.
Volgens Kurt Maske, ‘n paramedikus vir ER24, is hy omstreeks 01:10 oor die voorval verwittig.
“Met ons aankoms is ‘n man en vrou met ernstige beserings op die toneel aangetref.
“Die man se beserings was aanvanklik krities maar ons kon hom op die toneel stabiliseer.
“Albei is na ‘n hospitaal in die omgewing vir verdere behandeling vervoer,” sê Maske.
Maske het bevestig dat die Franschhoek-polisie, die Franschhoek First Responders en private sekuriteit op die toneel was.





