Prof. Michele van der Merwe het die voorreg gehad om nie een nie, maar twee dogters se grade by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeweek aan haar kroos toe te ken.
Anke het haar PhD-graad in Afrikaans en Nederlands ontvang, en haar suster, Andrea, het enkele dae later die podium betree om haar LLB-graad te ontvang. Die ervaring was des te meer spesiaal omdat prof. Van der Merwe – tans voorsitter van die departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde – 26 jaar gelede met ‘n DLitt in
Afrikaans en Nederlands aan die US gegradueer het.
Haar man, Albert, is ook ‘n alumnus met ‘n honneursgraad.
Tussen hulle spog die Van der Merwe-gesin nou met ‘n indrukwekkende 11 grade.
Prof. Van der Merwe sê haar eie akademiese ondervinding het haar in staat gestel om haar dogters met hul studies te ondersteun. “Ek kon met raad en sorg help wanneer dinge nie goed of na verwagting verloop het nie. Niks is so kalmerend soos ‘n kafeïeninspuiting saam met jou ma by jou gunsteling-koffiewinkel in Stellenbosch nie!”
Anke (27), wat aan die Hoër Mei-sieskool La Rochelle in die Paarl matrikuleer het en nou in Stellenbosch woon, het drie jaar lank aan haar PhD gewerk. “Ek het dié reis geweldig geniet. Aan die begin was dit intimiderend, want die onderwerp het vereis dat ek iets moet leer wat ek nog nooit vantevore geleer het nie. Ek het ‘n aanlynkursus van ses weke oor korpuslinguistiek by die Lancaster-universiteit (in die Verenigde Koninkryk) voltooi, wat die basis van my navorsing geword het.”
Oor haar tesis met die titel “ ’n Diakroniese korpusondersoek na die voorkoms van laat werk in die poëtiese oeuvre van Breyten Breytenbach”, sê sy dit was ‘n voorreg om navorsing oor dié ikoniese skrywer te doen. “Ek het nog altyd soveel aanklank by sy werk gevind en ek het nooit ‘moeg’ geword vir my onderwerp soos mense my gewaarsku het dalk kan gebeur nie.”
Andrea, ook ‘n oudleerder aan La Rochelle, het haar graduering ‘n paar dae ná Anke saam met haar suster en ouers gevier. “Dis ‘n eer en ek is trots daarop dat ek dié week saam met my suster gegradueer het. My gunsteling-deel was dat my ma my graad toegeken het. Sy en my suster het my albei gedurende my LLB-studie geïnspireer en ek voel geseënd dat ek op hul ondersteuning kon staatmaak. Hulle het my altyd aangemoedig om hard te werk en my drome en passies na te jaag.”
Die susters se fakulteite is albei in Ryneveldstraat geleë, maar Anke sê die regsfakulteit voel soos “ ’n ander wêreld”. Hul vakgebiede is wyd uiteenlopend en Anke sê haar suster se werk het haar uit haar eie PhD-“borrel” geskud.
Die wete dat haar ma ook haar PhD in die departement Afrikaans en Nederlands voltooi het, was gewis spesiaal, voeg sy by. “Sy het my selfvertroue gegee met haar woorde van bemoediging en ek kon op haar staatmaak. Om ‘n PhD te verwerf, was van kindsbeen af een van my drome en dit is aan haar te danke. Maar sy het nooit druk op my uitgeoefen om dit te doen nie; ek het self besluit dat dit my doel in die lewe is.”
Vir hierdie gesin van Maties was die gradeplegtigheidsweek in Maart ‘n dubbele feesviering. “Dis ‘n wonderlike gevoel en ek en my man is baie in ons skik,” sê prof. Van der Merwe. “Ons voel so geseënd, maar ook nederig. As ouers het ons ons dogters aangemoedig om hard te werk en hul drome na te jaag.”





