’n Lugfoto van Soetmelksvlei. Foto: Babylonstoren


Een van die jongste toevoegings tot die Wynland se toerismesektor is Soetmelksvlei, wat onder die vaandel van Babylonstoren bestuur word.

’n Besoek aan dié plaas vat jou terug na die laat 19de eeu – ’n tyd voor drastiese industrialisering, toe die wêreld teen ’n stadiger pas beweeg het en amper alles met die hand gemaak is.

Die plaas strek oor meer as 142 ha, met geskiedkundige geboue soos die herehuis, wat uit die 1600’s dateer.

Buiten die plaashuis is daar verskeie ander geboue wat as ’n interaktiewe museum dien.

Dit sluit in

  • Die Ou Kelder-gebou, wat ’n versameling interessanthede en boeke, asook ’n lewensgrootte speelhuisie en binnenshuise speelplek vir kinders het.. Die stokery en watermeul wat nuut gebou is en ’n presiese replika is van die destydse watermeule, waar graan vars gemaal is;
  • In die werkswinkel gebruik die ystersmid en skrynwerkers slegs tradisionele gereedskap om outydse produkte uit yster, hout en leer te maak.. In die hoenderhuis skrop kaalnekhoenders, ’n geharde soort hoender wat in die 19de eeu algemeen was, terwyl die eende en kalkoene op die werf rondloop. Percheron-perde staan by die kraal op stal, waar melkkoeie, miniatuurdonkies en skape ook te sien is; en
  • Die Ou Stal-restaurant bied heilsame tradisionele Suid-Afrikaanse disse soos bobotie, sop en kerrie-afval sowel as nagereg soos melk- en appeltert, asook konfyt, brood en kaas terwyl die Jonkershuis-plaaswinkel met handgemaakte items pronk.

Alle aspekte van Soetmelksvlei is interaktief om besoekers se sintuie te stimuleer. Kinders kan aan die diere vat, die melk of room kan geproe word en die dapperes kan self die hout in die werkswinkel kerf.

Die hart van die herehuis is die kombuis waar alles met die hand gemaak word en besoekers terugneem na die 19de eeu. Foto: Babylonstoren

Die plaas was in 1694 bekend as Bergen Henegouwen toe dit aan twee Hugenote toegeken is. Dit het daarna verskeie kere van eienaar verwissel totdat dit in 1896 die eiendom van die Koch-familie geword het, wat die naam na Donkerhoek verander het.

Die plaas is in 2019 deur die huidige eienaars van Babylonstoren bekom en oor die volgende vyf jaar het Soetmelksvlei gestalte gekry.

Volgens ou inventarisse het die vorige eienaars van Soetmelksvlei hoofsaaklik wyn verbou, maar ook graan en vleis – tot die 19de eeu.

In die 1880’s het die filloksera-krisis (’n klein geel luis) veroorsaak dat vrugtebome eerder op baie wingerdplase geplant is nadat die luis die wingerde vernietig het, en só het Soetmelksvlei hoofsaaklik ’n sagtevrugteplaas geword.

Volgens die museoloog Elsa Vogts, wat aangestel is om die projek te fasiliteer, is die “kultuur van selfstandigheid wat plaaslewe in die laat 1800’s gekenmerk het, fassinerend”.

Dit was ’n geslote ekostelsel, waar alles met ’n verstommende vlak van bedrewenheid handgemaak was en op die plaas herstel is. My gunsteling is die watermeul. Dit was ’n reusetaak om van nuuts af een op te rig wat nes ’n 19de eeuse meul lyk en werk.
Elsa Vogts

“Dit was ’n geslote ekostelsel, waar alles met ’n verstommende vlak van bedrewenheid handgemaak was en op die plaas herstel is. My gunsteling is die watermeul. Dit was ’n reusetaak om van nuuts af een op te rig wat nes ’n 19de eeuse meul lyk en werk.”

Ander kundiges wat aan die projek gewerk het, sluit in die Kaapse argiteksfirma Open City, terwyl Etienne Hanekom Interiors (ook van Kaapstad) die kreatiewe leiding geneem het, en met Babylonstoren se museumspan saamgewerk het om installasies en interieurs te skep.

Sylvia van Heerden (kostuumontwerper) het seker gemaak alle teksturele details vertoon eg.

Toegang

Soetmelksvlei is in die winter van Donderdag tot Sondag tussen 09:00 en 16:00 oop, en in die somer daagliks tussen 9:00 en 17:00.

Die plaas is nie toeganklik vir motors nie, en besoekers word met ’n pendeldiens van Babylonstoren se kaartjiekantoor na Soetmelksvlei vervoer. Die pendeldiens vertrek elke 30 minute van Babylonstoren af tussen 08:30 en 13:00, en van Soetmelksvlei af terug van 11:00 elke uur tot 16:00.

Kostes beloop R300 per persoon (dit sluit ’n jaarlikse Babylonstoren-lidmaatskap ter waarde van R100 in), of R200 toegang per volwassene met ’n geldige Babylonstoren-lidmaatskap.

Toegang beloop R100 per kind van vier tot 17 jaar oud, en gratis toegang geld vir kinders van drie jaar en jonger, mits hulle op die pendeldiens-rit van Babylonstoren na Soetmelksvlei op ’n volwassene se skoot sit.

Hongermae sal R280 per kop betaal wat insluit ‘n oestafel en warm buffet, terwyl nagereg en drankies ekstra is. 

“Klein handjies en voetjies” of te wel kinders, sal R80 betaal. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article