Wano Daniels (16) van Chicago in die Paarl is op 3 Maart op die N1 doodgery toe ’n polisievoertuig hom na bewering getref en vir dood agtergelaat het.
Die polisievoertuig is bestuur deur sers. Glynnis Bester van die Kampsbaai-polisiekantoor.
Wano was ’n oud-leerder van die New Orleans Primêre Skool.
Die voorval het die aand omstreeks 20:00 naby die Okavango-afrit plaasgevind toe Wano en sy oom, Walter Daniels, by iemand naby aan Kraaifontein besoek afgelê het.
Volgens Walter was hy en Wano te voet op pad na ’n nabye vulstasie vir ’n rygeleentheid terug na die Paarl, toe die polisievoertuig met blou ligte aan gejaag en Wano op die sypaadjie getref het.
Hy het op die toneel gesterf.
“[Die polisie]-voertuig het baie vinnig gery en ons [Wano en Walter] het binne die geel lyn geloop,” sê Walter.
“Sy [Bester] het [eers] gestop en ek het probeer om haar aandag te kry, maar toe het sy net weggejaag,” verduidelik Walter.
Bester het die afgelope Maandag (11 Maart) in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn, waar sy van strafbare manslag asook roekelose en nalatige dronkbestuur aangekla is.
Die saak is tot 25 April uitgestel, volgens Phaladi Shuping, ’n woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod).
“Niemand het gestop [nie], ek moes hom [Wano] daar los en hulp gaan soek by ’n vrou in een van die strate ’n hele ent van die [ongeluks]-toneel af,” verduidelik Walter.
Volgens Shuping was Bester onder die invloed van alkohol – meer as die toelaatbare limiet – en het haar bloedresultate ’n hoë alkoholinhoud getoon.
Nadat sy na bewering van die toneel af weggejaag het, het die polisievoertuig se nommerplaat op die ongelukstoneel agtergebly, waarna Bester met behulp hiervan deur die Kraaifontein-polisie opgespoor en in hegtenis geneem is.
“Die nommerplaat is op die toneel gevind, en toe hulle [die polisie] na die stelsel kyk, sien hulle dat die motor aan die Kampsbaai-polisie behoort. Die [Kampsbaai-polisie] is toe gebel, waar hulle meegedeel is die voertuig is deur Bester gebruik,” verduidelik Shuping.
Wano se familie beskryf hom as ’n “stil” tiener, met “respek vir grootmense” en iemand met ’n “groot passie vir Turkse sepies” wat in Afrikaans vertaal is, volgens ’n Netwerk24-berig.
’n Begrafnisdiens is Sondag vir Wano in Chicago in die Paarl gehou.. Die Paarl Post het by Opod navraag gedoen of Bester steeds in aanhouding is, maar geen antwoord is ontvang nie.





