‘n 13-jarige seun van Franschhoek is Maandagaand (26 Oktober) ernstig beseer nadat hy deur ‘n fiets omgery is. Die tiener het ‘n diep snywond aan die voorkant van sy kop opgedoen.
Volgens Raylene Plaatjies (51), ‘n familievriend, het die ambulans eers sowat drie uur ná die voorval opgedaag.
Plaatjies, wie se kleinkind ‘n vriend van die seun is, sê die seun en sy vriende het omstreeks 15:50 op hul fietse by haar huis verbygery.
Omstreeks 16:00 het sy haar dogter hoor skree en na buite gehardloop. “Toe ek uitkom, het hy reguit in my arms in gehardloop. Toe sien ek die snywond aan sy kop,” vertel Plaatjies erg ontsteld.
Sy sê hulle het hom dadelik in die huis geneem en ‘n lap teen die wond gedruk om die bloeding te probeer stop.
Plaatjies sê die seun het volgens haar dogter “om die draai” in La Provincestraat, Franschhoek gestaan toe ‘n fietsryer na bewering die draai te na aan die sypaadjie gevat en teen hom vasgery het.
Volgens Plaatjies is die volwasse man wat die fiets gery het een van die seun se ander vriende se broer.
Die seun het ook oor erge pyn in sy linkerarm gekla. Plaatjies sê sy het ‘n sekuriteitsbeampte wat verbygery het, gevra om ‘n ambulans te ontbied. Sy het glo ook self die nooddienste gebel.
“Ons het lank gewag vir die ambulans en ek het toe weer gebel, maar steeds het hulle nie opgedaag nie,” vertel sy.
Later is die Franschhoek First Responders ontbied. Twee lede van die span het omstreeks 18:30 by Plaatjies se huis opgedaag om die seun te help.
Die ambulans het kort voor sewe opgedaag en die seun is volgens Plaatjies omstreeks 19:05 na die hospitaal geneem.
“Die seun en sy ma het om 02:51 by hul huis aangekom,” sê sy.
Volgens Plaatjies het die seun se ma haar later ingelig dat hulle Dinsdagoggend (27 Oktober) moes terugkeer na die kliniek vir verdere mediese hulp.
Sy sê die seun se ma het nog nie kans gekry om ‘n amptelike kriminele klag by die polisie aanhangig te maak nie, maar beoog om dit binnekort te doen.
LEES OOK: Polisie vra publiek se hulp ná botsing wat seun (16) eis



