Paarliete was verlede Woensdagoggend (13 Maart) op hol toe ’n pragtige perd Hoofstraat in Suider-Paarl ingevaar het – dit nadat Rain, ’n 19-jarige perd van M’Lani Basson wat die Amado diere-ondersteuningsterapie-organisasie in die Paarl besit en bestuur, daarin geslaag het om van die plaas te ontsnap om vir ’n rukkie groener weivelde te gaan soek.
Rain is een van Amado se betroubare viervoetige terapeute, wat kinders van oor die Wynland, asook van Kaapstad, deur middel van perde-terapie ondersteun.
Amado, wat “geliefd” in Spaans beteken, is ’n organisasie sonder winsbejag wat staatmaak op donasies om oor die 40 kinders per week met gratis terapie-sessies by te staan.
Tans sukkel Amado om sekere van sy maandelikse kostes te dek, veral omdat finansiering opgedroog het.
Dus het Rain sonder huiwering by Paarliete gaan aanklop, op soek na befondsing vir Amado, sodat hy en George (9), sy Percheron-vriend, kan aanhou om jeugdiges by te staan.
“Daar was ’n digger loader die oggend, en toe die drywer daarmee deur die gesakte draad teruggaan, het hy dit nie weer gelig nie,” verduidelik Basson.
Rain het toe die kans gewaag en is toe van sy tuiste, aan die voet van die Paarlberg-natuurreservaat, deur die Laborie-wynlandgoed na die Courtrai-woonbuurt, en daarna af na Hoofstraat waar hy by Woolwoorths Food vir ’n koppie koffie en ’n geselsie gaan aanklop het.
Hy is uiteindelik by ’n speelskool in die omgewing opgespoor waar hy die kinders wat voor die hek gestaan het, gegroet het en ewe rustig vir sy hanteerders gewag het om hom uiteindelik te kom haal, so asof hy tevrede is met die hoeveelheid finansiering wat hy ingesamel het.
“Die verkeer het verskriklik [in Hoofstraat] gestaan,” vertel Basson.
Volgens haar het ’n bakkie voor Rain by die speelskool gestop, waarna sy hanteerders daar opgedaag het.
“Hulle [Rain se hanteerders] het ’n bakkie pellets saamgeneem, maar vergeet om ’n halter te vat,” vertel Basson.
Met hul aankoms het die bakkie se bestuurder gelukkig ’n tou byderhand gehad, wat die hanteerders gebruik het om Rain huis toe te lei.
Die hele episode het ongeveer ’n uur geduur, en Rain is weer omstreeks 11:00 veilig by Amado terugbesorg.
“Die verkeersafdeling was amazing,” sê Basson. “Hulle [die verkeersafdeling] het gesê as dit nie ’n bobbejaan is nie, is dit ’n perd.”
Rain is ’n Appaloosa-perd en is vir amper twee dekades deel van Basson se lewe.
Amado is in 2008 op die been gebring en akkommodeer 10 kinders op ’n keer vir gratis terapie van tussen een tot drie ure.
’n Jaarlikse gholfdag, waar alle opbrengste na Amado sal gaan, word op 17 Mei by Boschenmeer gehou.
Inskrywings kos R4 000 vir ’n vierbal.. Stuur e-pos naa info@amado.co.za of skakel 083 694 49337 om in te skryf of ’n bydrae en ’n verskil aan ’n kind se lewe te maak.





