Hoofstraat 269 in die Paarl, of beter bekend as Dental on Main, het behóórlik makietie gehou toe die geliefde dr. Piet Schoeman (72) ná 35 jaar by dié praktyk die tuig neergelê het.
Schoeman het ‘n volle 47 jaar as tandarts gepraktiseer en drie en ‘n half dekades hiervan in die Paarl, sy tuisdorp, gewerk.
Volgens Schoeman tree hy af met “gemengde gevoelens” en gaan hy sy kollegas, onder meer sy oud-vennoot, dr. Louis de Wet Louw, asook dr. Francois Malan, sy kollega en vennoot wat by hom oorgevat het, mis. Hy sê hy gaan ook na sy pasiënte verlang.
“Van my pasiënte is van die eerstes [by die praktyk],” het Schoeman verduidelik.
“Baie van hulle [die pasiënte] het kom drukkies gee en wyn gebring ná die nuus dat ek aftree.”
Dat hy lekker by Hoofstraat 269 gewerk het, is geen geheim nie, maar volgens hom is dit tyd om die laaste paar jaar “voor my gordyn sak” tyd te maak vir homself en sy familie.
Volgens Schoeman wil hy meer tyd saam met sy vyf kleinkinders langs die sportveld deurbring en “rondloop en kwaaddoen”.
Hy het vertel hy is ook lief vir die buitelug – veral voëlkyk saam met een van sy kleinkinders.
Schoeman is ‘n Paarliet in murg en been en het in 1971 aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer, waar hy destyds die hoofseun was.
Ná skool het hy aan die Universiteit Stellenbosch (US) ingeskryf vir ‘n graad in regte, maar ná ‘n kort rukkie besef dié rigting is nie vir hom nie.
Schoeman het toe vir aanlegtoetse gegaan, waarna medies aan hom voorgestel is, en dit is dié dat hy besluit het op tandheelkunde – ‘n besluit waaroor hy nooit spyt was nie.
Hy het toe sy B.Ch.D-graad in 1978 aan die US se Tygerberg-kampus voltooi en was die derde groep tandheelkundestudente wat destyds gegradueer het.
Hy het toe – nadat hy graad gevang het – ‘n praktyk in Durbanville geopen, waarna hy later die kans gekry het om Dental on Main, die oudste tandheelkundepraktyk in die Paarl, te koop.
Volgens hom het hy die praktyk by die vorige tandartse oorgekoop met die gebou wat altesaam twee geslagte tandartse voor sy koms gehad het.
Oor die jare heen het tandheelkunde verskeie veranderings beleef en een hiervan is die skuif van herstellende sorg na estetiese behandelings.
“Almal wil skitterwit tande hê,” het hy gesê.
Schoeman onthou ‘n poets wat hy en sy vennoot op ‘n pasiënt gebak het.
Volgens hom het ‘n kliënt die praktyk besoek vir ‘n nuwe stel gebitte, waarna hy en sy kollega twee stelle kunstande gemaak het – een wat aan die vereistes voldoen het, en ‘n tweede, humoristiese stel met oordrewe, wydgespasieerde tande wat ver uit die mond gestaan het.
Toe Schoeman se kollega die tweede stel gebitte in die pasiënt pas, en die pasiënt sy tande die eerste keer sien, het hy gevra: “Maar gaan die tande dan nou nie natreën nie”? Dit is een van vele staaltjies wat Schoeman gretig onhou, maar die res bly ‘n geheim.





