Die Drakenstein-munisipale hof in die Paarl. Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n pluimpie aan sy munisipale hof in die Paarl gegee, wat sedert die hof se totstandkoming in Desember 2022 altesaam 17 402 sake aangehoor en alleen oor die afgelope finansiële termyn bykans R17 miljoen in inkomste vir die munisipaliteit ingevorder het.

Die inkomste word toegeskryf aan boetes wat uitgereik is vir verkeersoortredings en die oortreding van munisipale regulasies.

Munisipale howe hoor spesifiek sake aan wat met die oortreding van munisipale wetgewing verband hou, soos verkeersoortredings, die skending van bouregulasies en ander munisipale regulasies. Dit is daarop gemik om die las op ander howe te verminder.

Geen strafregtelike aangeleenthede verskyn in hierdie hof nie.

Volgens die munisipaliteit het verkeer-verwante sake op die hofrol gestyg van net oor die 500 in Julie 2023 tot bykans 2 500 in Januarie 2024.

Vir die 17 402 sake wat oor die afgelope twee jaar op die rol geplaas is, is 14 077 lasbriewe uitgereik. Dit kan egter beteken dat slegs 3 325 sake suksesvol deur die hof oor hierdie tydperk afgehandel is.

Die doel van ’n hof is egter nie om inkomste vir ’n owerheid te genereer nie, maar om sake aan te hoor wat op grond van ’n beweerde munisipale oortreding konflik veroorsaak het en die hof moet daaroor beslis, wat dalk tot die oplegging van ’n boete kan lei.
David Frost, voorsitter van die Paarl-belastingbetalersvereniging

David Frost, voorsitter van die Paarl-belastingbetalersvereniging, het by navraag gesê die vordering wat in die kort tydperk deur die hof gemaak is om geskille te hanteer, is prysenswaardig.

“Dit is ’n goeie begin, maar minimaal in die groter siening van die totale begroting van Drakenstein. Maar dit kan beslis bydra tot die balansering van die begroting.

“Die doel van ’n hof is egter nie om inkomste vir ’n owerheid te genereer nie, maar om sake aan te hoor wat op grond van ’n beweerde munisipale oortreding konflik veroorsaak het en die hof moet daaroor beslis, wat dalk tot die oplegging van ’n boete kan lei.

“Die uitgangspunt kan nooit wees om geld te genereer nie, maar eerder om geregtigheid te laat geskied en die nakoming van wet en orde na te streef.”

Volgens Frost kan hy nie help om op te merk hoeveel lasbriewe uitgereik is nie.

“Dit wil voorkom asof daar nie gehoor aan die prosesse gegee word nie. Dit sal bepaal word op grond van die wyse van optrede deur die verkeersafdeling.

“Is die meerderheid sake sogenaamde elektroniese gevalle wat van kamera tegnologie gebruik maak, soos spoed- en verkeerslig-oortredings, of parkeer-oortredings?

“Die ideaal is dat daar vrywillige nakoming van die wet moet wees op grond van effektiewe sigbare polisiëring deur ’n verkeersafdeling.”

Intussen het Eben Cyster, ’n staatsaanklaer by die munisipale hof, in die munisipaliteit se nuusbrief gesê hy is trots op wat die hof in ’n redelike kort tydperk bereik het.

“Ons doen deeglike huiswerk om seker te maak dat die sake wat op die rol beland, gewen sal word.

“Ons grootste prestasie, in my opinie, is dat ons in hierdie twee jaar alle gebiede van die verskeie munisipale regulasies in hierdie hof hanteer het. Dit vat gewoonlik ander munisipaliteit tot agt jaar om dit te kan doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article