Die bekende Paarlse skrywer Alta Cloete (66) het onlangs haar 30ste kort liefdesverhaal die lig laat sien.
Nuut begin is Cloete se dertigste romanse in die Romanza-reeks wat deur Lapa-uitgewers uitgegee word.
“Dit is die derde boek in ’n reeks van drie (Weer begin en Oorbegin is die eerste twee) wat gaan oor drie sussies se finansiële en emosionele herstel ná die pandemie,” vertel Cloete.
Sy verduidelik romanses is kort liefdesverhale met ’n gelukkige einde. “Ernstige kwessies word wel aangeraak, maar die ontwikkeling van die liefdesverhaal moet altyd sentraal staan.”
Volgens Cloete publiseer Lapa elke maand vier boeke in die Romanza-reeks en sy is een van die skrywers wat vir hulle skryf.
Cloete het ná die geboorte van haar eerste seun tydskrifverhale begin skryf en haar eerste boek is op 51-jarige ouderdom gepubliseer.
Cloete is ook bekend vir die skryf van haar gewilde Geur- en Seisoen-reekse wat tussen 2010 en 2014 verskyn het. Dit bestaan uit sewe boeke wat oor ’n uitgebreide familie- en vriendegroep en hulle kinders gaan. Die Geur- en Seisoen-reekse is liefdesromans met ernstige temas, maar eindig altyd met hoop.
Oor waar sy haar inspirasie kry om romantiese fiksie te skryf, meen Cloete die inspirasie “wemel oral rondom ons van idees en mooi verhale – ’n mens moet net leer om daarvoor op te let”.
Volgens haar is inspirasie ’n baie klein deel van die proses. “Die res kom deur vasbyt en dissipline. As ’n mens net op inspirasie wag, gaan jy baie min gedoen kry.”
Sy meen ervaring kan wel help met hoe lank dit ’n skrywer neem om ’n boek te voltooi, omdat ervare skrywers weet wat vir julle werk en wat nie.
“ ’n Mens kan byvoorbeeld baie tyd bestee om foto’s van die karakters in jou gedagtes op Pinterest te soek of om ’n speellys vir jou storie saam te stel. Vir sommige skrywers help dit om aan die gang te kom, maar vir my vertraag dit eerder die proses van skryf.”
Cloete het ook al ’n liefdesverhaal, wat as ’n Superromanza gepubliseer is, geskryf, sowel as ’n boek oor depressie, waarin sy haar eie ervaringe as iemand wat vir jare met depressie saamleef, deel.
Sy het ook ’n bydrae gelewer tot die bundel Vrydagaand, wat onlangs bekendgestel is.
Oor die jare het sy reeds altesaam 41 boeke gepubliseer, maar sy meen dit is nie die aantal boeke wat belangrik is nie, maar die egtheid van die stories en die gehalte van die skryfwerk.
“Skryf is ’n eensame werk en dis nie maklik om jou brein-baba, wat eintlik uit jou hart kom, vir die wêreld oop te gooi wanneer dit gepubliseer word nie. Dit is egter geweldig bevredigend om te dink mense bring ure van hul kosbare tyd deur om jou boeke te lees. Ek skryf juis romantiese fiksie omdat dit my help om die harde werklikheid te hanteer, en dis ook wat dit vir my lesers doen. Lees is ’n skadelose manier van ontvlugting, en liefdesverhale help veral vroue om weer moed en krag vir hulle daaglikse take te kry.
“Daar is ook heelwat mans wat liefdesverhale lees, maar hulle is nie altyd so openlik daaroor nie,” vertel sy.
Voordat Cloete ’n voltydse ma en daarna skrywer geword het, was sy ook ’n bibliotekaresse, ’n graad R-juffrou en ’n skoolbibliotekaresse.
Cloete en haar man het twee seuns, wat tans al twee as ingenieurs gekwalifiseer is en in Noorweë as navorsers werk.
“Elkeen van daardie stadiums het ’n deel gedoen om my vir my skryfloopbaan voor te berei, al het ek dit nie toe besef nie.”
Buiten haar liefde vir skryf, geniet sy dit ook om Afrikaanse boeke op sosiale media te bevorder en werk sy ook hard daaraan om die stigma rakende depressie en ander geestesiektes te help verbreek.
“Ek werk ook saam met Paarl Homeless Cats om huislose katte in die Paarl te versorg en te laat steriliseer, asook om huise vir die klein katjies te vind. Ons bied ook ’n liefdevolle tuiste vir ’n hele paar diere wat andersins ’n veel moeiliker lewe sou gehad het. Niks kan die teenwoordigheid van ons kinders vervang nie, maar om vir ’n hulpelose dier ’n nuwe lewe te bied, bring tog groot bevrediging en baie warmte in ons lewe.”. Vir meer besonderhede oor haar boeke, besoek altacloetewebwerf. wordpress.com/





