Chantélle Hartebeest
Die werklikheid dat hul sewejarige dogtertjie oorlede is, het nog nie vir die Scheffers- egpaar van die Paarl ingesink nie.
Klein Laylah Hope Scheffers is verlede Maandag (19 Mei) in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad aan natuurlike oorsake oorlede. Haar geliefdes maak gereed om haar hierdie naweek ter ruste te lê.
“Haar dood is nog ‘n bietjie van ‘n skok. Sy was ‘n type 1 diabetic. Dit was glad nie die verwagting dat sy sou sterf nie. Vir ons was dit sy gaan vinnig hospitaal toe om haar ketones te balanseer en dan sou sy huis toe gekom het, want dit was die roetine,” vertel haar ma, Mandy Frankfort-Scheffers.
“Ons het ingegaan omdat sy maagkrampe gehad het en later het sy van kopseer gekla. Haar brein het begin swel en sy is toe basies breindood verklaar.”
Volgens Frankfort-Scheffers is diabetes op driejarige ouderdom by haar dogter gediagnoseer, maar hulle het dit goed onder beheer gehad. Sy vertel dat sy vir Laylah, wat in gr.1 by die Laer Meisieskool La Rochelle was, as ‘n “babbelbekkie” sal onthou.
“Laylah het baie gepraat – aaneen; non-stop. Sy het ‘n hart van goud gehad en was baie nuuskierig. Jy kon nooit net vir haar ja of nee sê nie. Jy moes aan haar verduidelik hoekom jy ja of nee sê. Niks was vir haar onmoontlik nie. Sy het ons altyd uitgedaag met vrae en dit was nie altyd maklik om ‘n vraag reguit vir haar te verduidelik nie. Daar was ‘n tyd wat ek vir haar moes sê dat ek eers gou die antwoord op ChatGPT moet gaan opsoek.”
Frankfort-Scheffers en haar man, Jonathan Scheffers, berus hulle daarby dat hul engelkind deur haar sterfte sewe ander kinders se lewens gered het.
“Sy is ‘n orgaanskenker en het haar lewer, niere en hartklep geskenk. Sy kon sewe ander kinders se lewens red deur die organe wat geskenk is. Ons het net gevoel dit is die regte ding om te doen om vir ander kinders ‘n tweede kans te gee sodat ander ouers nie hul kinders in pyn moet sien nie.
“Laylah se volle hart was nie viable vir skenking nie, maar net die klep. Vir ander mense daarbuite wil ek net sê dat mense bewus moet word rakende kinders en tipe 1-diabetes en veral orgaanskenking, want daar is ‘n lang lys van kinders wat wag vir organe. So kan meer as een kind se lewe gered word.”





