Die 2024- Dallmayr- Mev. Suid-Afrika- kompetisie is goed aan die gang met die Paarl wat weer eens goed verteenwoordig word.

Paarl Post het met die Paarliet Dawn Arendse gesels oor haar betrokkenheid by vanjaar se kompetisie nadat sy verlede jaar self deelgeneem en die top-30 gehaal het.

Sy vertel oor haar deelname, wat dit vir haar beteken het en watter impak die kompetisie op haar gemaak het.

“Dit was vir my ’n ongelooflike ervaring en ek het so baie van myself ontdek wat vir ’n lang tyd óf weggesteek was óf nooit ontgin is nie. Ek het tonne nuwe vaardighede aangeleer, soos onder meer sosiale media, die vermoë om jouself as ’n handelsmerk te bemark en ook om te delf in wat dit is wat jy wil bereik en hoe jy te werk moet gaan om daardie doelwit te bereik.

“My Mev. Suid-Afrika-reis het my geleer dat ’n mens nooit te oud is om jou drome na te jaag nie en dat dit baie belangrik is vir vroue om mekaar in hierdie wêreld te ondersteun. Ek is oorweldig deur my gemeenskap se ondersteuning en kan nie genoeg beklemtoon hoe baie waardering ek daarvoor het nie. Hierdie was iets wat ek nie net vir myself moes doen nie, maar vir elke ouer vrou wat begin glo het sy het haar ‘sell-by date’ bereik.”

Volgens Arendse is Mev. Suid-Afrika meer soos ’n vrouebemagtigings­pro­gram as wat dit ’n skoonheidskompe­tisie is. Sy meen vroue moet die geleentheid gebied word – met die nodige ondersteuning – om die absolute beste weergawe van hulself te wees.

“Hierdie organisasie is ’n sprekende voorbeeld van uitnemendheid en ’n sisterhood, waar almal mekaar onvoorwaardelik aanvaar en ondersteun. As jy onder die indruk verkeer dat slegs ’n mooi gesiggie en figuur nodig is, moet ek jou ongelukkig teleurstel. Elke aspek van jou vrouwees word getoets, en dis ’n fantastiese kopskuif wat ’n mens maak.

“Ek is tans ’n Mev. Suid-Afrika- mentor, met ’n spesifieke klem op die Wes-Kaap. Dit bied my die fantastiese geleentheid om die huidige semi-finaliste van die Wes-Kaap hulp en leiding te gee, en ook my ervaring met hulle te deel. Ek is so bly om deel te kan wees van hul groei en dis ongelooflik om te sien hoeveel die vroue al in dié kort tydjie bereik het. Daar is tans 10 semifinaliste in die Wes-Kaap en my droom is om daai kroon Wes-Kaap toe te laat kom. Die 2024-semifinaliste is ’n baie sterk groep en dit gaan interessant wees om te sien wie in November met die kroon wegstap.”

Paarl Post het onlangs berig oor Kim-Lee Ricketts en Wilechia van der Westhuizen wat die dorp se naam vanjaar hoog hou.

“Ek het Kim-Lee Ricketts by ’n partytjie geïdentifiseer as ’n kandidaat om aan die Mev. Suid-Afrika-kompetisie deel te neem en sy het die geleentheid met albei hande aangegryp. Die feit dat ek nou ’n aktiewe rol in haar reis kan speel, is ’n ongelooflike voorreg.

“ ’n Mens besef nie werklik dat jy ’n verskil kan maak nie, totdat jy hoor hoe ’n semifinalis soos Wilechia van der Westhuizen sê jy het haar geïnspireer en dis hoekom sy besluit het om die kans te waag om ook in te skryf – dis ’n ongelooflike eer en ek het verskeie kere verlede jaar genoem as ek slegs een vrou in haarself kan laat glo, dan was die reis gewis die moeite werd.”

Vroue wat beoog om in die toekoms aan die kompetisie deel te neem, moet eers baie navorsing doen voordat hulle inskryf.

“Voornemende deelnemers moet bereid wees om hard te werk. Hierdie program word nie verniet die “MBA of Life” genoem nie, maar die eindresultaat is absoluut die moeite werd.

“Maak seker jy het ’n goeie ondersteuningsnetwerk. Jy moet ook finansieel sterk genoeg wees om ’n paar keer Johannesburg toe te gaan vir die onderskeie saamtrekke.”

Sy bemoedig ook alle vroue om te glo in hulself en dit wat hulle na die tafel toe bring.

“In hierdie wye wêreld is daar slegs een van jou – hoe spesiaal is dit! Mag elke vrou wat hierdie artikel lees, ’n daadwerklike poging aanwend om haar beste weergawe te wees en mag sy nooit vergeet hoe uniek en wonderlik sy is nie.”

Vandat Arendse kan onthou, neem sy al aan skoonheidskompetisies deel.

“My ma het altyd ’n staaltjie vertel van hoe ek as agtjarige my skool se skoonheidskompetisie kamstig as toeskouer gaan bywoon het, en aan die einde van die aand met die kroon huis toe gekom het. Ek het ook tydens my hoërskoolloopbaan aan verskeie skoonheidskompetisies deelgeneem. Skoonheid en mode het my nog altyd gefassineer en ek dink dis deel van my DNS.”

Hoewel Arendse haarself vandag toespits op die bemagtiging van vroue, is sy eintlik ook ’n gekwalifiseerde onderwyser met 10 jaar ervaring agter die blad.

“Daarna het ek gekwalifiseer as eiendomsagent en deur die jare het ek verskeie beroepe beoefen, soos funksie-koördineerder, wynbemarker, restaurantbestuurder, ensovoorts. Tans is ek ’n eiendomsagent, die eienaar van CJ Carwash, ’n aktiewe lid in my man se konstruksiemaatskappy en ’n Mev. Suid-Afrika-mentor, en daar is heelwat dinge in die pyplyn vir die toekoms.

“Manifestering is deesdae aan die orde van die dag en in daardie lig sit ek dit daarbuite in die heelal dat ek baie graag ’n sisterhood movement wil begin en dat ek ’n ‘silwermodel’ (’n mens gebruik nie ‘oud’ nie; dis nie mooi nie) wil wees.

“Ek dink dis belangrik dat die modebedryf die waarde van ouer vroue raaksien aangesien ons eintlik die koopkrag het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article