Inwoners gaan beslis swaar sluk aan die voorgestelde tariefverhoging van elektrisiteit wat in die konsepbegroting vir die 2023-’24-boekjaar op Woensdag 29 Maart op die munisipale raadsvergadering ter tafel gelê is.

Die voorgestelde tariefverhoging van elektrisiteit is 18,02% teenoor verlede jaar se verhoging van 7,71%.

Bradley Brown, finansiële hoof by Drakenstein-munisipaliteit, verduidelik dit is belangrik dat inwoners daarop moet let dat Nersa (Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika) ’n tariefverhoging van 18,49% aan Eskom goedgekeur het, wat beteken dat die munisipaliteit 18,49% meer vir grootmaat elektrisiteitsaankope sal moet betaal in die nuwe boekjaar.

“Om ons inwoners tegemoet te kom in die huidige uitdagende ekonomiese tye, sal die munisipaliteit egter elektrisiteitstariewe (koste per eenheid) met net 18,02% verhoog (onderworpe aan Nersa se goedkeuring en riglyne wat nog uitgereik moet word),” sê hy.

Die ander voorgestelde tariefverhogings is as volg:

. Eiendomsbelasting sal verhoog word met 3,9% teenoor die vorige boekjaar se 0,0%;

. Water en sanitasie sal albei verhoog word met 6,5% (6,9% in 2022-’23); en

. Vullisverwydering sal verhoog met 6,9% (minder as 2022-’23 se 7,5%).

“Dit is ook belangrik om daarop te let dat hoewel die inflasiekoers (Verbruikersprysindeks) 7,34% aan die einde van Februarie was, word die werklike munisipale inflasiekoers vir die 2022-’23-boekjaar op 10,3% (brandstofkoste, materiaal en meer) bereken.

“Dit is waarom die munisipaliteit ons tariewe moet verhoog – om finansiële volhoubaarheid, goeie finansiële bestuur en gesonde kontantvloei te verseker. Die voorgestelde tariefverhogings per diens is minder as die 7,34%-inflasiekoers, behalwe in die geval van elektrisiteit,” verduidelik Brown.

Indien die konsepbegroting met sy voorgestelde tariefverhogings einde Mei goedgekeur word, sal dit op 1 Julie in werking tree. Inwoners word nou die geleentheid gegee om hul insette en kommentaar hieroor aan die munisipaliteit te stuur.

“Die munisipaliteit nooi inwoners uit om hul insette op die munisipaliteit se konsepbegroting, konsep- geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP), en konsep- ruimtelike ontwikkelingsraamwerk te gee. Hulle kan dit doen deur ons ope dae in April by te woon.”

Die volledige rooster van ope dae met datums, tye en plekke vir verskillende wyke is beskikbaar op die webtuiste van die munisipaliteit. Inwoners kan ook hul kommentaar op die konsep-begroting e-pos na idp@drakenstein.gov.za of skryf aan die Kantoor van die Stadsbestuurder, Paarl-Burgersentrum, Bergrivier-boulevard, Posbus 1, Paarl, 7646.

Alle kommentaar moet teen 29 April ontvang word.

Die konsep-GOP en die konsep- ruimtelike ontwikkelingsraamwerk is op die munisipaliteit se webtuiste beskikbaar onder Statutory Disclosures. Kommentaar op die ontwikkelingsraamwerk moet voor 8 Mei per e-pos na customercare@drakenstein.gov.za gestuur word, of skriftelik aan die Kantoor van die Stadsbestuurder by bogenoemde adres gerig word.

“Na afloop van die ope dae sal alle publieke kommentaar in oorweging geneem word en in die finale GOP, begroting en ruimtelike ontwikkelingsraamwerk geïnkorporeer word wat teen die einde van Mei vanjaar op ’n raadsvergadering ter tafel gelê sal word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article