Tannie Christina Majiet, wat verlede maand haar 103de verjaarsdag gevier het, het onlangs sag heengegaan.

Haar susterskind Dennis von Willingh beskryf haar as “innoverend” en “ ’n vrou wat alles kan doen”.

Volgens Von Willingh het sy tante jare lank vir ’n destydse tekstiel-unie in die Paarl gewerk.

“Sy, my ma en hul sibbe is almal in die Sutherland-distrik gebore voordat my ouma en oupa besluit het om Paarl toe te verhuis om hul kinders ’n beter lewe te gee. Tannie Christina was een van sewe kinders – vyf susters en twee broers.”

Tannie Christina het haar skoolonderrig in die Paarl by die destydse Zionskerk-skool ontvang. Von Willingh sê hy sal sy tante onthou vir haar liefde vir tuinmaak en iemand wat nie bang was om iets aan te pak nie.

“Sy het op 95-jarige ouderdom nog self die hele pad Sutherland toe en terug in haar Datsun gery. Niemand mag haar Datsun bestuur het behalwe sy nie.”

Tannie Christina het ’n tweeling (seun en dogter) gehad, maar hulle is ’n paar jaar gelede al dood, sê Von Willingh.

“Sy het ses kleinkinders gehad, maar een is reeds oorlede. Dan het sy ook agt agterkleinkinders. Sy word deur een suster, Elizabeth Majiet, wat 98 is, oorleef. Iets wat baie interessant is, is dat Tannie Christina se ma, wat dieselfde naam gehad het, ook tot op 103 geleef het.”

Von Willigh sê Tannie Christina sal opreg gemis word en haar dood laat ’n groot leemte in die familie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article