Tayla Fisher en Jean Steenkamp span saam om haar saailinge in groot oeste om te skep. Foto: Heleen Rossouw



Die groentjie-entrepreneur Tayla Fisher (13) se tuiskwekery is minder as ’n jaar oud, maar sy het die afgelope naweek reeds haar tuinvurk in haar eie stukkie grond op die plaas Origin buite Wellington gesteek.

Tayla sê dit is nie net haar saailinge wat blitsvinnig groei nie, maar ook haar onderneming, Tayla’s Seedlings, wat sy verlede jaar in haar pa se motorhuis begin het.

Haar verkope aan ’n groeiende klantebasis vaar só goed dat sy ’n stuk grond van sowat 1,2 m by 80 m op die plaas kan bewerk en hoop om binnekort ook groente te verbou.

“Ek is tans besig met ’n langtermynprojek op die plaas. Ek wil plante begin kweek en oes en hopelik die oeste verkoop,” sê sy.

Jean Steenkamp, die eienaar van die plaas langs die R45 tussen Wellington en die Paarl, sê die Here het ’n visioen aan hom geopenbaar. “Ek het mense op dié oop stuk grond sien sade plant. Nie lank daarna nie het Tayla my gekontak om ’n stukkie te huur.”

Hy het eers oorweeg om dit gratis aan haar beskikbaar te stel, maar toe die plaaslike Agrimark genader en die bestuur oorreed om by ’n groter projek in te koop waarby meer entrepreneurs hopelik sal baat vind.

Jean sê dit sal vir hom ’n droom bewaarheid as hy ander jongmense kan aanspoor om ook geleenthede op die plaas te ontsluit.

Vir Tayla bied die stukkie grond die kans om haar verskeidenheid groente-saailinge uit te brei. “Op die oomblik is my pa se garage al oorvol van my saailinge, en hierdie sal my kapasiteit verbeter.”

Haar toegewyde ouers, Kieryhan en Bronwyn, het aangebied om haar soms saans en naweke te help, terwyl personeel op die plaas haar sal help om onkruid te verwyder en die plante nat te lei.

Tayla hoop om ander kinders en hul ouers te inspireer om saam ’n soortgelyke toekoms te bou en selfs om skole betrokke te kry.

Sy het ook reeds verskeie uitreikprojekte na plaaslike ouetehuise begin. “Ek het ’n skenkingsprojek met Sunfield Homes begin nadat ek voorheen ’n paar saailinge aan Silwerkruin geskenk het.”

Danksy hierdie uitreikaksies het haar klantebasis aansienlik uitgebrei.

Die huidige projek vir Sunfield sal tot einde Mei duur en behels dat sy een saailing aan die tehuis skenk vir elke R10 wat iemand by haar onderneming bestee.

“Ek het tans 120 saailinge wat al geskenk is. Die doel is om vir Sunfield Homes se mense die geleentheid te skep om na plante om te sien en uiteindelik daarvan te kan oes.”

Aangesien sy self gesien het wat dit behels om ander te help, beoog sy om uitreikaksies na verskeie organisasies met mekaar af te wissel.

Hoe bestuur Tayla haar skoolwerk by die Laerskool Hugo Rust terwyl sy op so ’n jong ouderdom haar eie onderneming bestuur – veral omdat sy ’n mediese dokter wil word?

“My ouers het van dag een af ingestem om in te spring en te alle tye te help, solank ek belowe om steeds my beste op skool te doen. Dit was ononderhandelbaar.”

Haar ma getuig van die gemeenskap se ondersteuning van haar bedrywighede. Stephan Landsberg van Parceval Pharmaceuticals is een voorbeeld.

“Stephan is van dag een af haar grootste ondersteuner,” sê Bronwyn. “Hy het onlangs voorgestel om haar op ’n uitstappie te neem op ’n plaas wat medisinale plante kweek. Op dié manier, glo hy, kan sy haar opsies vir haar drome verken.”

Vir Tayla was dit ’n groot voorreg om deur die Parceval-fabriek te toer. “Die oom het my so verbaas met hoe ’n mens medisyne van plante kan maak. Ek het my vergaap aan dié fabriek. Ek wil hom graag vir dié wonderlike ervaring bedank.”

Intussen werk sy hard aan haar droom om ’n skootrekenaar te koop: die rede waarom haar ouers haar aangeraai het om haar eie inkomste te genereer.

“Ek gebruik my huidige geld om op die plaas uit te brei, maar my somme kom bymekaar en dui op ’n goeie wins vir my skootrekenaar. Ons kan die wêreld verander – een saailing op ’n slag.”

  • Vir meer inligting oor die onderneming, besoek die blad Tayla’s Seedlings op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post Medical Guide – 30 April 2026
    Credit: Heleen Smit Credit: Heleen Smit

Gift this article