Die beoordeling van die jongwyne van die 2023-oesjaar was verlede week in volle gang met meer as 1 250 inskrywings wat meeding om die toptrofeë sowel as goue, silwer- en bronsmedaljes by die SA Jongwynskou in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl.
Die SA Jongwynskou is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld, dateer terug tot 1833 en is nou in sy 191ste jaar.
Die Kaap die Goeie Hoop-landbougenootskap, wat in 1996 die bemarkingsnaam Agri-Expo gevestig het, is oor al die jare aktief by die SA Jongwynskou as die eienaar van hierdie merkwaardige wynskou betrokke en handhaaf tot vandag sy verbintenis as beskermheer. As sodanig het Agri-Expo die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) as organiseerder toevertrou met die besonderse indrukwekkende versameling goue en silwer trofeë, wat jaarliks aan die wenner-wynmakers toegeken word.
Die jongwyne van 2023 wat ingeskryf is, sal om 17 gesogte trofeë in die verskillende klasse meeding, met slegs een van die inskrywings wat as die algehele kampioenwyn van die jaar gekroon sal word en die gesogte Generaal Smuts-trofee, wat al sedert 1952 uitgeloof word, sal ontvang. Terselfdertyd sal die Pietman Hugo-trofee aan die kelder met die hoogste algehele punte vir inskrywings in vyf kategorieë oorhandig word. Altesaam 14 panele met meer as 65 beoordelaars sal bevoorreg wees om die beste jongwyne van vanjaar te kies.
Die klasse wat vanjaar die meeste inskrywings gelok het, was ander Rooi Kultivars, Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Rooi Versnitwyne, Shiraz, Pinotage en Cabernet Sauvignon.
Die omvattende beoordelingsproses gaan vanjaar gepaard met goeie nuus vir wynliefhebbers, naamlik dat Suid-Afrika weereens ’n uitstekende wyn-oes opgelewer het. Wynmakers is dit eens dat wyne van besonderse gehalte vanjaar gemaak is, ondanks aansienlik wisselende en uitdagende klimaatstoestande gedurende beide die groei- en oesperiodes. Verbruikers kan daarna uitsien om die 2023-wyne te geniet wanneer hulle gebotteleer is.
“Ons is beïndruk met die gehalte van vanjaar se wyne wat ingeskryf is, ondanks ’n moeilike parstyd en hierdie positiewe stemming in die bedryf word ook weerspieël in die toename van wyne wat uit al die gebiede ingeskryf is,” aldus die SANWSV-voorsitter, Christo Pienaar.
Bennie Howard, ondervoorsitter van die SANWSV, sê: “Ons is baie opgewonde oor die ondersteuning van al ons vennote by hierdie merkwaardige wynskou wat tot die voordeel van die hele bedryf sal wees. Hiermee verseker hulle ’n blink toekoms vir die Jongwynskou, wat as ‘die juweel’ van die bedryf bekend staan.”
Die toekenningsbyeenkoms word op Vrydag 25 Augustus deur die Paarl Jongwynstreek by die Dawn Mountains- sentrum naby die Paarl aangebied, voorafgegaan deur ’n proe van al die goue medalje-wenners van 2023.





