’n Gr. 11-leerder aan Weltevrede Sekondêr in Wellington, Taishaan Rabie, is tans in die wedloop om die Mej. Wêreld SA-kroon te wen.

Volgens Taishaan was dit ’n groot skok vir haar toe sy ingelig is dat sy deurgedring het na die kwarteindronde van dié skoonheidskompetisie. Die skok kom veral, sê sy, omdat sy uit moeilike omstandighede kom en uit ’n gemeenskap waar bendegeweld heers. Ten spyte hiervan is Taishaan vasberade om vanjaar met die kroon weg te stap.

Sy vertel sy neem al die afgelope nege jaar aan skoonheidskompetisies deel.

“Ek is in my eerste skoonheidskompetisie in 2014 as Mej. Dalweide Primêr gekroon. Ek het ook intussen aan klein kompetisies in my gemeenskap deelgeneem. Ek is in 2019 as Miss Teen Cape Winelands gekroon. As ek ’n skoonheidskompetisie sien of daarvan hoor, het ek my altyd ingeskryf. Ek is dol oor skoonheidskompetisies omdat ek in myself glo, en die invloed wat dit op my het, is dat ek die innerlike skoonheid in myself sien.”

Carolyn Botha, ’n verteenwoordiger van Mej. Wêreld SA, sê dit is vanjaar die eerste keer dat Mej. Wêreld SA as ’n alleenstaande kompetisie aangebied word. Voorheen is die wenner van Mej. Suid-Afrika na die Mej. Wêreld-kompetisie gestuur, maar van vanjaar af sal die wenner van Mej. Wêreld SA aan die internasionale kompetisie deelneem.

“In die Mej. Wêreld SA-kompetisie sal die wenner gekroon word wat die simboliek van grasie, elegansie en skoonheid definieer en wat by liefdadigheidswerk voor haar verbintenis met Mej. Wêreld SA betrokke was, aangesien dit ons ’n naatlose oorgang sal gee met die Mej. Wêreld SA 2023-wenner wat haar en ons handelsmerk outentiek in die Mej. Wêreld-kompetisie in Desember in Indië sal kan verteenwoordig,” voeg Botha by.

Taishaan sê die rede waarom sy as Mej. Wêreld SA gekroon wil word, is om haar omstandighede te verander en ’n groter rol in haar gemeenskap te vervul.

Sy Sê wanneer sy met die kroon wegstap, wil sy ander meisies aanmoedig om ’n geleentheid met albei hande aan te gryp.

“My boodskap aan ander jong meisies is om in jouself te glo en jou drome uit te leef, want om in jouself te glo, is die beste en jy sal jou drome bereik.”

Buiten skoonheidskompetisies neem Taishaan ook aan buitemuurse aktiwiteite soos netbal sowel as sang en dans deel. Sy droom om eendag ’n loopbaan in die forensiese veld te volg, maar vir eers is sy op Mej. Wêreld SA gefokus.

“Ek wil net dankie sê vir die Hemelse Vader wat dit vir my moontlik gemaak het en dan wil ek ook vir my gemeenskap dankie sê dat hulle in my glo en 100% agter my staan.”

Die kroning van Mej. Wêreld SA vind op 28 Oktober in Johannesburg plaas.

Intussen kan mense nog vir Taishaan stem deur die kode MWSA125 aan die SMS-nommer 40113 te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article