Volgens ’n inwoner was verlede Donderdag (2 Februarie) al weer een van die vele dae waartydens diens by die plaaslike verkeersentrum teen ’n slakkepas geskied het.

Dié inwoner, wat die verkeersentrum in Dal Josafat gereeld moet besoek, vertel dat daar op 2 Februarie op ’n tyd slegs een kassier aan diens was om kliënte te help, terwyl die ander werker ’n teepouse geneem het.

“Ek sit nou amper drie ure by verkeer. Op een tydstip was hier net twee mense wat die publiek bedien – nou is hier net een. Die ander een is op tee. Dit gaan bitter stadig. My moermeter is nou besig om te ontplof. Só kan dit regtig nie aangaan nie, hoor. Ongeveer 24 mense sit – en dit sonder om te beweeg.”

Paarl Post het die klagte aan die Drakenstein-munisipaliteit vir kommentaar gestuur en hulle ook gevra of daar uitdagings is wat die munisipaliteit in dié verband bevind.

Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, is daar geen uitdagings aan hul kant nie.

“Die Drakenstein-munisipaliteit kan die publiek verseker dat daar geen uitdagings, gebreke of ’n tekort aan personeel by die Dal Josafat-verkeersentrum ervaar word nie.

“Die transaksies wat afgehandel moet word, neem egter ’n bepaalde tyd, wat veroorsaak dat dit lyk asof die rye stadig beweeg.

“Soos by baie ander diensleweringspunte vra die munisipaliteit mense om hul besoeke aan die verkeersentrum te beplan en genoeg tyd toe te laat (byvoorbeeld om betyds hul lisensie-hernuwings te doen, leerlinglisensie-afsprake te bespreek, ensovoorts), asook om ’n klein bietjie geduld aan die dag te lê.”

Esau sê ook die munisipaliteit sal intussen weer na sy interne prosesse kyk om te bepaal hoe die munisipaliteit sy dienslewering nog verder kan verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article