Met die rugbyseisoen in volle gang trek verskeie rugbyklubs in die omtrek swaar weens onvoldoende toestande by plaaslike rugbyvelde.

Eugene Andries, waarnemende voorsitter van die Paarl-streek, het gesê dis kommerwekkend dat plaaslike rugbyspelers asook hul ondersteuners onder sulke swak toestande op munisi­pale rugbyvelde moet oefen en speel.

Die pas afgelope naweek was glo weer ’n fiasko by Daljosafat-stadion, wat veronderstel is om ’n kroonjuweel te wees in Drakenstein-munisipaliteit se fasiliteite.

Eugene sê daar was geen water by die kleedkamers nie en die vrouetoilette moes toegemaak word as gevolg van die waterprobleme.

“Dit is maar een van die vele probleme op Daljosafat.”

Beligting is ook ’n groot probleem en as dit donker raak, moet spelers ophou speel.

“Dit is veral nou problematies met die korter dae wat voorlê. Die meeste spelers werk en kan dus slegs na-ure oefen.

Eugene sê weens onvoldoende kleedkamers is skeepsvraghouers wel aangebring, maar hulle is net so gelos sonder dat die munisipaliteit hulle ingerig het. Dus kan hulle nie gebruik word nie.

By die Boy Louw-velde geld dieselfde probleme met beligting, so as dit donker raak, kan daar nie geoefen word nie.

“Ironies het Paarl Rugby ’n jaar gelede aangebied dat hulle die beligting sal uitsorteer by Boy Louw, maar dit lyk nie asof die Drakenstein-munisipaliteit hierin belangstel nie.

Verder sê Eugene daar is ’n stormwaterkanaal wat tussen die Daljosafatvelde deur loop. Nadat die rugbylui reeds vroeg vanjaar die munisipaliteit oor die baie vuil kanaal ingelig en hulle het ingestem het om dit skoon te maak, is tot op hede nog niks gedoen nie.

Wat die oefenvelde betref, is hulle ook nie beter af nie. Twee klubs moet op een veld oefen en dan word twee velde uitgehou waarop net wedstryde gespeel word. Faurestraat is ook net ’n witolifant vir rugbyklubs en is buite die meeste mense se bereik vir wedstryde.

“Die sport-afdeling van die munisipaliteit gee ook min of geen samewerking nie.

Daar is ook geen beligting by die New Orleans-velde nie en klubs moes self beligting aanlê terwyl ander klubs onder die ligte van hul motors moet oefen. Dis skokkend om die minste te sê.”

Maar Gerard Esau van die munisipaliteit fluit ’n ander deuntjie.

Hy sê die tekort aan water die afgelope naweek op Daljosafat kan toegeskryf word aan die bars van ’n ondergrondse asbespyp wat daartoe gelei het dat daar geen water op die veld was nie.

Vandeesweek was die munisipale span steeds besig om dit te herstel. Verder sê Esau met betrekking tot die beligting het die munisipaliteit al op vele platforms sy kommer oor die voortdurende kabeldiefstal uitgespreek.

“Ongelukkig word ons sportgeriewe nie van hierdie misdadige gedrag kwytgeskeld nie. Die munisipaliteit het in die tussentyd mobiele ligte met die hulp van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit bekom om met die beligting saans te help. Een van die plaaslike rugbyklubs het ook aangebied om die munisipaliteit by onder meer die Boy Louw-velde te help.”

Hy sê ook die skoonmaak van die kanaal geniet aandag.

Die Paarl het tans 15 klubs met drie spanne per klub. Esau sê dit is die munisipaliteit se plig om te verseker dat velde speelbaar is vir die ligawedstryde op Saterdae.

Dus kan daar ongelukkig nie vier keer per week op die velde geoefen word en dan met ligawedstryde op Saterdae opgevolg word nie.

“Geen veld sal die groot volume voetverkeer kan dra nie en dit sal tot gevolg hê dat van die wedstryde dalk nie gespeel kan word as die velde nie aan die regulasies vir formele wedstryde voldoen nie.

“Faurestraat-stadion word tans uitgeboek vir wedstryde op Saterdae asook ander aktiwiteite, dus is dit nie ’n “witolifant” soos in die skrywe genoem word nie.”. Club rugby is being hampered in the valley due to poor maintenance and facilities at local municipal sports fields.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article