WP-klubrugby (WPRFU) is weer die naweek in volle gang wanneer wedstryde op al vyf rugbyvelde by die Daljosafat-sportterrein gespeel word.
Die Paarl-klub kom op die A-veld in ’n Superliga A-wedstryd te staan teen Villagers, wat tans een van die voorlopers in die Superliga A-kompetisie is.
Hoewel die A-veld se speeloppervlak tans weens ’n swak dreineringstelsel nie in ’n goeie toestand is nie, hoop die plaaslike rugbyadministrateurs dat WPRFU-Boksmart-beamptes wel die wedstryde kan goedkeur.
Die voorlopers in die Paarlstreek-kompetisie, Paarl Rangers, kom op die B-veld teen Riverstones te staan.
Alle oë sal op Riverstones wees om weer die streekkompetisie mededingend te maak deur die voorlopers te verslaan en ander klubs weer ’n kans te gee om by die agterdeur in te kom.
Laer Paarl pak die moeilike span van Young Gardens op die Daljosafat-C-veld. Gardens is nog in vervoering ná sy oortuigende oorwinning oor Riverstones en ’n gelyke wedstryd word verwag.
Die sogenaamde DAM-derby word op die D-veld gespeel wanneer Violets en Young Standards mekaar die stryd aansê. Hierdie wedstryd bring altyd die beste in dié twee klubs na vore.
Die alom verbeterde span van Pêrel United, wat Simondium in ’n derbywedstryd pak, word op die E-veld beslis, en indien Pêrel United op sy laaste twee vertonings kan voortbou, kan dit ’n moeilike middag vir Simondium wees.
Young Peoples speel weg teen Franschoek; Albions pak die span van Pniël Villagers in Pniël en Vineyards kom teen die All Saints te staan.. An action-packed weekend of Paarl club rugby lies ahead.


