Roses United het Saterdag op Pelikaanpark ‘n geskiedkundige mylpaal bereik toe hy sy laaste ligawedstryd in die Boland-Grootuitdaagreeks met 59-27 teen Hamlet gewen het.
Hierdie oorwinning was sy 22ste sege in net soveel wedstryde – ‘n perfekte
seisoen – en het Roses United as kampi-
oen van die Witsentraal-streek gekroon.
Met dié prestasie vestig Roses United hom as een van die voorste streeksrugby- klubs in die Boland. Die span sal van 11 Oktober aan die gesogte Top-12-kompetisie deelneem, waar hy teen die beste spanne in die Boland sal meeding.
Roses United het vroeg momentum opgebou toe Xavier Lee Solomons die eerste drie van die wedstryd gedruk het. Kort daarna het Keagan September agter die doellyn gaan kuier. Solomons het die drie verdoel. Ryan Percence het twee puik drieë gedruk – die eerste ná slim lynstaanwerk en die tweede met brute krag deur die verdediging. Keagan September het verdoel en Roses het teen rustyd 24-20 voorgeloop.
In die tweede helfte het Easton Arendse die bal opgeraap en ná ‘n 50-m-jaagtog onder die pale gedruk. September het die ekstra punte bygevoeg. Kort daarna het Renaldo Young ook gaan druk, met September wat sy betroubare skopvoet gewys het. ‘n Pragtige spanpoging het gevolg toe Asha Zeeman ná goeie spel tussen sy voor- en agterspelers gaan druk het – met Arendse wat ‘n groot aandeel daarin gehad het. September het weer verdoel.
Arendse het later sy tweede drie ná goeie verspreiding van die bal na die buitekanale
aangeteken. September het weer die doelskop laat geld. In die slotfase het Renaldo “Naledi” Young sy tweede drie op briljante wyse gaan druk. Ná September se doelskop was die eindtelling 59-27.
Samehorigheid en dissipline het die
kampioenskap vir Roses United verseker.
Roses se afrigter, Daniel Roman, het die oorwinning aan harde werk, toewyding en die steun van die gemeenskap toegeskryf. “Ons het met ‘n droom begin en vandag het ons dit verwesenlik. Ons reis eindig egter nie hier nie – nou begin die volgende uitdaging,” het Roman gesê.
Die gemeenskap van Wellington het
Roses United deur die hele seisoen ondersteun en dié triomf is net soveel hul oorwinning as dié van die span self.
PUNTEMAKERS: Roses United (59): Drieë: Xavier Lee Solomons, Keagan September, Ryan Persence (2), Easton Arendse (2), Renaldo Young (2), Asha Zeeman.
Doelskoppe: Xavier Lee Solomons (1), Keagan September (6).





