Roses United die doring in Wesbank se vlees, verseker plek in halfeind

Roses se kaptein El Shaun Davids vier een van sy twee drieë wat hy in die wedstryd gedruk het. Foto: Reginald Afrikaner

Roses United het Saterdag 8 November in indrukwekkende styl sy plek in die halfeindstryd van die Sanlam Boland Top 12-kompetisie verseker.

Dít nadat hy Wesbank met 41–27 in Malmesbury afgeransel het.

Die Witsentraal-kampioene het van die eerste afskop af oorheers. Teen rustyd het hy reeds met ‘n stewige 33 – 5 voorgeloop – en boonop hul bonuspunt vir vier drieë reeds in die sak gehad.

Roses se voorry het van vroeg af sy stempel afgedruk met vernietigende skrumwerk wat die Wesbank-voorspelers telkens in trurat geplaas het.

LEES OOK: Roses Witsentraal-koning

Volgehoue druk werp vrugte af

Die span se spelplan het perfek uitgewerk en die gasheer se verdediging is herhaaldelik oopgeskeur. El Shaun Davids (kaptein) het aan die voorpunt van die aksie gestaan en twee puik drieë gedruk. Sy leierskap en werkywer het hom die titel van Speler van die Wedstryd besorg.

Sy medevoorspelers, Lance Korabie, Chandtler Davids en Jason Fortuin, was eweneens ‘n doring in Wesbank se vlees. Dié voorspelers het deurentyd druk by die afbreekpunte toegepas. Wesbank het in die eerste helfte geen antwoorde vir Roses se aanval of verdediging gehad nie.

Hulle het wel ná rustyd met hernieude gees uit die kleedkamer gekom. Hulle het die Roses-verdedigingslyn verskeie kere gebreek en daarin geslaag om 22 punte in die tweede helfte aan te teken.

Die Wellington-span het egter begin moeg raak met sowat twintig minute oor. Verskeie spelers moes die veld met krampe verlaat. Roses kon slegs een verdere drie druk – deur Carlyle Lawrence – terwyl Xavier Lee Solomons met sy betroubare skopvoet 11 punte bygedra het.

Roses United
Roses se Jovelian de Koker probeer deur Wesbank se verdediging breek. Foto: Reginald Afrikaner

‘Werk nog nie klaar’

Roses se afrigter, Brendon April, het ná afloop van die wedstryd aan Paarl Post bevestig dat daar verskeie veranderings aan die beginspan gemaak is ná verlede week se nederlaag.

“Ek het duidelik gemaak dat spelers wat nie by die wedstrydplan hou of nie hul beste lewer nie, plek sal maak vir ander wat honger is vir sukses,” het April gesê.

“Die manne het vandag gewys wat dissipline en samewerking kan bereik.” April het egter gewaarsku dat daar steeds werk voorlê. “Ons moet verbeter in ons uithouvermoë en besluite oor waar ons speel op die veld. As ons dit regkry, kan ons nog groot dinge doen in hierdie toernooi.”

Roses se agterspelers het met flair en spoed gespeel. Andre Manuel, Carlyle Lawrence en Xavier Lee Solomons was veral gevaarlik met die bal in die hand en het die tuisspan telkens in die moeilikheid gebring. Die kombinasie tussen die voorspelers en agterspelers het Roses ‘n gebalanseerde aanslag gegee wat Wesbank nie kon hanteer nie – veral in die eerste 40 minute.

Roses United het met sy oorwinning tweede geëindig in Groep A en dring nou deur na die halfeindstryd waar hy op Saterdag 15 November teen Robertson, die verdedigende kampioene van 2024, te staan kom. Die wedstryd vind plaas in die Boland-stadion in Wellington, en die span weet hulle sal nóg skerper en meer klinies moet wees om deur te dring na die eindronde op 22 November. “Ons het vandag karakter gewys, maar die werk is nog nie klaar nie,” het Davids gesê. “Robertson is ‘n sterk span, maar ons is gereed.”

Puntemakers

Roses United (41):

Drieë – El Shaun Davids (2), Chandtler Davids, Andre Manuel, Noor Marinus, Carlyle Lawrence. Doelskoppe – Xavier Lee Solomons (4). Strafdoel – Solomons

Wesbank (27):

Drieë – Ralthon du Toit, Jaydon Boltney, Keanan Solomons, Romeal Swartz, Mihle Nelani.

Doelskop – Dashton Wellman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article