Roses United het Saterdag 25 Maart in gietende reën op Pelikaanpark in Wellington met ’n sege van 26-10 teen ’n begeesterde Young Blues-span as die wenners uit die stryd getree.
Dit het die Roses 30 minute geneem om hul eerste punte aan te teken toe die skrumskakel en kaptein, Percival Williams, vir sy span oorgeduik het vir ’n drie, wat deur sy losskakel, Ryan Julies, verdoel is. Die tuisspan se tweede drie het gevolg nadat die voorry-speler Chandler Davids drie minute speeltyd voor die einde van die eerste helfte die doellyn oorgesteek het.
Die span van Koplande-plaas op die ou Hermon-pad in Wellington, wat hul buiging in vanjaar se Grootuitdaag-kompetisie in die Witsentraal maak, het aanval op aanval van stapel gestuur, maar kon nie daaruit munt slaan nie.
Die span van Danie Roman (Roses-afrigter) moet ook ’n pluimpie kry vir hul rotsvaste verdediging. Die manne in blou en wit was ook baie ongeduldig op die aanval. Met die aanbreek van rustyd was Roses United 12-0 welverdiend voor.
Goeie werk deur die agterspelers van Young Blues het toegesien dat Branden Jansen ná ses-minute se spel in die tweede helfte met ’n drie afrond, wat deur Danzel Hendricks verdoel is.
Nat toestande het tot baie hanteerfoute deur beide spanne gelei. Roses het egter van rat verwissel en ’n verdere twee drieë deur sy haker, John Jantjies, en die vleuel Heinrich Isaacs gedruk.
Beide spanne se ondersteuners het die reënweer getrotseer en in groot getalle opgedaag vir die eerste ligawedstryd van die seisoen op Pelikaanpark.
Die span van Young Blues sal so gou as moontlik moet aanpas as hulle in die Grootuitdaag-kompetisie van die Boland mededingend wil wees.
Puntemakers:
Roses United (26): Drieë: Percival Williams, Chandler Davids, John Jantjies en Heinrich Isaacs. Doelskoppe: Ryan Julies (3).
Young Blues (10): Drieë: Branden Jansen. Doelskoppe: Danzel Hendricks. Strafdoele: Danzel Hendricks. Roses speel Saterdag (1 April) teen Hillcrest United op Pelikaanpark, terwyl Young Blues gasheer speel vir Bella Vista van Ceres.





