Na aanleiding van verlede week se berig waar ons verslag gedoen het oor plaaslike skoolhoofde Mary Banda en Harvey Cupido wat saam met 17 ander by ’n bedrogsaak betrokke is, en geskryf het die bedrag betrokke is moontlik R2,2 miljoen, is vasgestel die bedrag is wel soos voorheen berig meer as R12 miljoen.
Banda van Klein Nederburg Sekondêr, en Cupido van Wellington Sekondêr, word saam met ’n groep ander voormalige beheerliggaamlede en onderwysers van Atlantis Sekondêr beskuldig dat hulle in 2008 ’n leerdervervoerkontrak van Benjamins-busdienste met die betrokke skool onwettig verleng het. Die busdienste het glo meer as R12 miljoen voordeel getrek.
Volgens die klagstaat was Banda toe in diens as die betrokke skool se waarnemende skoolhoof en Cupido as die adjunk-skoolhoof.
Lloyd Fortuin, regsverteenwoordiger vir Banda en Cupido, sê hy gaan vir eers geen kommentaar lewer nie omdat hy nog nie die dossier onder oë gehad het nie.
Die beskuldigdes het op 10 Maart die eerste keer in die Atlantis-landdroshof verskyn en is op borgtog van R3 000 vrygelaat. Hul volgende hofverskyning is 24 April.


