By die vrouebemagtigingsbyeenkoms gereël deur die alumni van die Hoërskool Bergrivier is agter van links: Prof. Michael le Cordeur, prof. Thuli Madonsela, Anthony Cavernelis (skoolhoof), Edwina Goff en Christofine Kearns en Alistair Claasen (organiseerder). Middel: Lenchem Appollis en Edward Small (komitee), Tracy Lange, Lance van Eeden (voorsitter) en Charlene Jones (komitee). Voor: Theresa Petersen (komitee), Sirene Paulse en Natalie van Eeden.

Credit: SYSTEM

Women know their worth. Dit was die tema van ’n suksesvolle dag van vrouebemagtiging, gereël deur die alumni van die Hoërskool Bergrivier in Wellington.

Meer as 400 vroue het die Wellington-stadsaal op ’n koue, reënerige Saterdag (2 Julie) volgepak om na inspirerende vroue te luister. ’n Bewys dat vroue behoefte het om gehoor te word, is dat nie eens die Bokke se wedstryd die vroue – die meeste oudleerders van die Hoërskool Bergrivier, kon keer om hierdie spesiale geleentheid by te woon nie.

Vroulike leiers in die gemeenskap wat inspirerende boodskappe gelewer het, was Edwina Goff (voormalige Mej. Rapport), Christofine Kearns (hoofsweep van die Drakenstein-munisipaliteit), en Sirene Paulse.

Edwina en Christofine, albei oud-leerders van Bergrivier, het hul stories met die gehoor gedeel: Edwina het vroue daarop gewys dat om ’n skoonheidskoningin te wees haar nie verhoed het om haar graad aan die UWK te voltooi nie, en vandag is sy ’n vroue-aktivis, motiveringspreker en geestelike leier. Christofene, die eerste Mej. Bergrivier, is vandag ’n gesoute politikus wat haar plek in die raad vol staan. Sirene het vroue daarop gewys sy het nooit toegelaat dat haar gestremdheid in die pad staan van haar sukses nie.

Vroue het behoorlik aan prof. Thuli Madonsela (voormalige openbare beskermer van Suid-Afrika en tans professor in regte aan die Universiteit Stellenbosch) se lippe gehang toe sy haar toespraak lewer. In haar toespraak het Madonsela aan vroue gesê (in Engels) “indien jy weet dat jy na die beeld van jou Skepper gemaak is, ken jy jou waarde goed genoeg om nie toe te laat dat enigiemand of iets jou waarde definieer nie”. Sy het daarop gewys dat jou titel, geld of beroep nie bepaal wie jy is nie, maar die mate waartoe jy ’n verskil in ander se lewe maak. “Elke vrou is fenomenaal. Elkeen het ’n doel op aarde. Dis jou taak om dit vas te stel en uit te leef.”

Die kragtige boodskap van al die sprekers was dat vroue enigiets kan wees wat hulle wil as hulle aan hulself glo en weet wat hul eie waarde is.

Die dag is ingekleur met musiek van die plaaslike diva en Idols-finalis Amy Jones, Loukmaan Adams, Mujagid George en Anslin Gysman (van die TV-program Voices).

Om alles af te rond het die bekende televisie- en radiopersoonlikheid Tracy Lange as seremoniemeester opgetree en toegesien dat die program glad verloop. Haar onderhoude met die gassprekers op die rusbank was insiggewend en het die gehoor van die nodige agtergrond oor elke spreker voorsien.

Dit was die tweede in ’n reeks van drie saamtrekke wat die alumni beplan. Vroeër vanjaar is ’n soortgelyke geleentheid vir die manlike oud-leerders van die skool gehou en die komitee beplan ’n gesinsaamtrek later vanjaar.

Prof. Michael le Cordeur, ook ’n oud-leerder van die skool, het die alumni-komitee van Bergrivier onder leiding van Lance van Eeden bedank en gesê hulle kan tereg trots voel. Van Eeden het ’n beroep op alumni gedoen om nader te staan en die skool met hul talente by te staan. Dit hoef nie net in die vorm van geld te wees nie – dit kan enige talent wees wat jy tot voordeel van die skool kan gebruik, soos ’n hokkie-afrigter of koorafrigter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article