Die Premierliga-kompetisie van Boland-krieket begin Saterdag wanneer die Paarl-krieketklub om 10:00 op die Parysvelde teen die Victoriane van Stellenbosch in ’n 50-boulbeurt-wedstryd te staan kom. Dit word opgevolg met ’n tuiswedstryd op 12 Oktober teen Robertson KK.

Die klub se beplanning is ietwat in die wiele gery deur verlede naweek se gure weersomstandighede, maar die afrigter Manfred de Kock is vol vertroue dat die meerderheid van sy spelers genoeg speelkans in die Boland se T10-kompetisie, wat in September gespeel is, gekry het.

Die manne is reeds van Julie af in die gimnasium besig, asook met ander binnenshuise oefenwerk, en is oorgehaal om hul stempel teen die studente af te druk. Hulle het die studente die vorige seisoen twee keer ore aangesit.

Groot dinge word met die kolf verwag van Luke Philander, wat as kaptein aangewys is, terwyl staatmakers soos Darryl Hendricks, Adrian du Toit, Lindley Hendricks en Herschelle Poggenpoel goeie ondersteuning van die belowende JJ van der Sandt kan verwag.

Ná sy afwesigheid in die vorige seisoen sal Tylon Matthee ’n gedugte kombinasie met die nuwe bal met Taiwin Adams, Liam Muller en Grant Chordnum vorm, terwyl die draaiboulwerk oorgelaat sal word aan die jong Henrico Albertus, tesame met Waylain September, Du Toit en Poggenpoel.

Paarl KK se junior struktuur is ook goed op dreef, met spanne van o.9 tot o.19 wat gereeld oefen.

Paarl se vrouespan is Sondag 13 Oktober in twee T20-wedstryde op die Parysvelde teen Stellenbosch KK en Wellington KK betrokke.

Paarl Krieketklub het die volgende aanstellings op sy 33ste jaarvergadering aangekondig:

President: Quinton Jacobs

Voorsitter: Lyndon Fredericks

Vise-voorsitter: Ultallyn Erntzen

Sekretaris: Darryl Hendricks

Tesourier: Garron Arendse

Wedstrydsekretaris: Ilka Douman

Klubkaptein: Lindley Hendricks

Addisionele bestuurslede: Gail Africa, Manfred de Kock en Merwe Genis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article