Nooddienste is Maandag (1 Desember) na ‘n woning in De Vriesstraat in Vanwyksvlei, Wellington ontbied waar ‘n man glo deur die Mbekweni-polisie doodgeskiet is.
Hoewel die polisie dit in die stadium nie kon bevestig nie, was die man glo vir minstens twee onbekende sake gesoek.
Paarl Post het ‘n plakkaat van die Mbekweni-polisie onder oë gehad waarop die gesig van die man verskyn. Twee saaknommers verskyn op die plakkaat.
Inwoners het ook bevestig dat die man op die plakkaat glo die afgelope Sondag by die woning in De Vriesstraat gewaar is.
“Hier het so half twee drie polisie vans opgedaag en daar [by die woning] ingehardloop. Twee skote het afgegaan,” vertel ‘n ooggetuie.
Die oggetuie vertel verder dat die polisie se forensiese eenheid met ‘n graaf in ‘n sak by die woning uitgekom het.
Die polisie en speurdienste was teen 16:00 nog op die toneel.
Navrae is aan die polisie gestuur. Hulle kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.
Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.





