‘n Egpaar van Klapmuts, wat op ‘n bessieplaas langs die Proteapad woon, het verlede Woensdag (10 September) in die middernagtelike ure wakker geskrik nadat vensters van hul huurhuis gebreek is en boewe toegang tot hul huis verkry het.

Erica de Villiers, ‘n woordvoerder vir die Klapmuts-plaaswag, het die voorval bevestig en gesê die oortreders het in ‘n oop sloot onder die plaas se geëlektrifiseerde heining gekruip.

Hierdie opening is intussen toegemaak.

Volgens haar is die plaas waar die aanval en inbraak plaasgevind het, nie lid van die plaaswag nie, maar die plaaswag is die volgende dag daaroor ingelig.

De Villiers het verduidelik die voorval het omstreeks 02:00 plaasgevind toe minstens drie mense toegang tot die plaashuis verkry het deur van die vensters in die huis oop te slaan terwyl die twee inwoners, ‘n man en ‘n vrou, geslaap het.

Die egpaar se slaapkamervenster is blykbaar eerste oopgebreek en stukke glas het op die vloer geval, waarop die egpaar hul voete gesny het toe hulle na die badkamer gevlug het.

Volgens kapt. Jacobus Moos, die stasiebevelvoerder van die Klapmuts-polisie, het ‘n “onbekende man die [egpaar] deur [hul] slaapkamer se oop venster wakker gemaak”.

Die inbreker het toe glo ‘n skoot met ‘n vuurwapen afgevuur, waarna die man hom deur die venster met ‘n strykplank bygekom het. In die badkamer kon hulle dadelik iemand oor die voorval inlig omdat hulle een selfoon na die badkamer gevat het. Die oortreders het toe ook hul aandag op dié vertrek toegespits, waar hulle die venster oopgeslaan en die man se trouring deur die venster van sy hand probeer afruk het.

Hulle het egter misluk, waarna die vrou haar ring gegee het, asook haar man se selfoon wat hulle ook wou hê, het De Villiers verduidelik.

Volgens Moos wou die rower ook weet of die egpaar enige geld het en waar hul kluis is.

Die oortreders het toe met die aankoms van die persoon wat vir hulp gekontak is, gevlug nadat hy op die huis met sy motorligte aan afgejaag het terwyl hy op die toeter gedruk het.

Volgens hierdie persoon, wat anoniem wil bly, het hy met sy aankoms by hulle dadelik die plaas se sekuriteit in kennis gestel, wat toe die polisie ontbied het.

De Villiers het bevestig die aanvallers was gewapen met minstens ‘n geweer, waarmee hulle skote afgevuur het.

Die Klapmuts-polisie het blykbaar later aan die egpaar bevestig dat die geweer net leë koeëldoppies in gehad het.

Van die ander goed wat gesteel is nadat die oortreders toegang tot die huis verkry het, sluit in tegnologiese toestelle en beursies.

Die polisie ondersoek blykbaar die moontlikheid dat vier oortreders by die aanval en inbraak betrokke was, maar dit kon nie bevestig word nie.

Volgens De Villiers het kameras wat op die Proteapad kyk, geen voertuie gedurende die aanval en inbraak waargeneem nie en die polisie vermoed die verdagtes het met ‘n motor weggery wat daar naby gestaan het. Sy het gesê dat sy reeds ongeveer 15 jaar in die area woon en is dit die eerste keer sedertdien sy hier bly wat sy van so ‘n geweldadige voorval tehore gekom het.

Sy verduidelik dat dit ook die eerste plaasaanval is waarvan sy tehore gekom het. Volgens Moos word ‘n saak van huisroof ondersoek.

Die koerant het uitgereik na die egpaar wat aangeval en beroof is, maar hulle het aangedui dat hulle nie kommentaar wil lewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article