Piketberg KK het verlede Saterdag op sy tuisveld verras met ’n naelskraapse 14 lopie-oorwinning teen Paarl KK, wat hul eerste nederlaag gelei het in die Boland se Premierliga-kompetisie.
Dit was slegs Piketberg se tweede sege in die topliga en Wellington KK sal in sy spoor moet trap met sy besoek aan die graanboere eerskomende Saterdag.
Paarl se nederlaag veroorsaak dat Maties nou met drie punte voorloop (danksy hul bonuspunte), wat afstuur op ’n reusebotsing wanneer die studente Saterdag hul spiere op die Parysveld kom bult. Derde op die punteleer is Vredenburg-Saldanha, wat twee weke later Paarl toe kom.
Kaptein Lorenzo Ockhuis (51, 3×4, 1×6) en Wesley Skippers (31, 2×4) het die tuisspan goed laat afskop met ’n aanvangsvennootskap van 75 lopies, voordat albei b.v.p. betrap is deur die vaart van Grant Chordnum (8-0-35-4). Daarna het Jake Hine (51 n.u.n, 3×4, 1×6) en Paul Dietrich (39, 2×4, 2×6) vasgeskop in ’n 4de paaltjievennootskap van 65 lopies, maar die res van die kolwers het gesukkel teen die Paarl se kaptein Waylain September (10-1-30-2), terwyl Tylon Matthee (8-0-30-0) weer eens ekonomies was met die nuwe bal.
Met ’n teiken van 218 in 50 boulbeurte, het Paarl se aanvangskolwers haastig afgeskop, met Darryl Hendricks (63, 5×4, 2×6) en Robyn Andrews (61, 5×4) wat gesorg het vir ’n aanvangsvennootskap van 109 lopies. Hendricks se kolfgemiddelde staan tans op 118 in die ligakompetisie en hy sal Paarl se steunpilaar wees teen die Maties. Ná 42 lopies van die eerste vier boulbeurte was Piketberg verplig om vroeg reeds van hul aflosboulers gebruik te maak.
Hier het Ricardo Maarman (10-0-27-0), Ockhuis (8-0-30-1), Dietrich (10-0-36-2) en Vivian de Wee (10-1-35-3) reusewerk verrig. Skippers het ook beïndruk deur ’n paar briljante vangskote agter die paaltjies. Athabile Breakfast en Gertrum Brink, wat vroeg kwaai deurgeloop het teen Hendricks, het teen die einde goed kom boul om Paarl tot 203 te beperk.
Paarl II speel Saterdag in Stellenbosch teen Maties II.




