Ná ’n moedige beurt van 99 lopies vir Paarl II teen Wellington II die naweek, verlaat ’n teleurgestelde Byron Walters die speelveld.


Paarl het verlede Saterdag op die Parysveld bewys dat sy T20-oorwinning oor Wellington geen gelukskoot was nie deur die besoekers oortuigend met 31 lopies in Boland se Premier-liga te klop. Paarl het met sy vierde agtereenvolgende oorwinning sy posisie bo-aan die punteleer verstewig, terwyl Wellington sy tweede nederlaag binne twee weke gely het.

Manfred de Kock, Paarl se afrigter, was egter nie tevrede met die feit dat sy span oor die afgelope paar weke nie die bonuspunte kon beklink nie. Sy span het eerste gekolf en ’n skaflike telling van 221/9 in 50 boulbeurte opgestapel nadat die eerste 40 boulbeurte slegs 163/5 opgelewer het. Waylain September (53, 5×4, 1×6) het egter met ’n kapteinsbeurt momentum gebring – veral in sy sesdepaaltjievennootskap met Edrique Cook (35, 3×4). JJ Lambregts (5-1-10-1) het vir Wellington gevaarlik gelyk met die nuwe bal, maar die Paarlse son het sy tol geëis. Roche du Plooy (5-0-31-3) en die linksdraaier Tom Seales (10-1-39-3) het die oog met hul variasie gevang, totdat September losgetrek het.

Die besoekers (190 in 48.4 boulbeurte) se aanvangskolwer, Junaid Cassiem (50, 9×4), was in ’n aanvallende bui en het die tweedepaaltjievennootskap van 45 lopies met Bjorn Hollenbach (39, 1×4) oorheers. Garth Abrahams (43 n.u.n, 1×4) en Tiaan Cloete (31, 3×4) was die enigste ander kolwers wat vir Wellington teen die tuisspan se betroubare boulaanval kon wal gooi het. Hollenbach en Abrahams se gebrek aan grenshoue het egter hul span onder druk gehou. Tylon Matthee (8-3-27-0) se skof met die nuwe bal was indrukwekkend, terwyl Grant Chordnum (10-0-59-2) op kritieke tye vir Paarl kom toeslaan het. Byron Cook (8.4-0-41-4) het egter die kalklig gesteel met sy wegbrekers, goed bygestaan deur sy broer, Edrique (10-1-27-1), en September (10-0-22-3).

Op die B-veld het Paarl II naelskraaps teen Wellington II verloor nadat hy in die laaste boulbeurt uitgeboul is. Byron Walters (99) het hard vir die tuisspan probeer voordat hy in die voorlaaste boulbeurt uitgeknikker is.

Eerskomende Saterdag reis Paarl na Piketberg, wat op sy onlangse sege teen Victoriane sal wil voortbou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article