Twee skole van die Paarl is onlangs in verskeie afdelings van Netwerk24 se skolenuus-kompetisie benoem.


Inge van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool La Rochelle is onlangs as wenner in die afdeling vir die beste indiepte-artikel in Netwerk24 se skolenuus-kompetisie aangewys.

Hier is haar wen-atikel:

“There is no limit to what we, as women, can accomplish.” – Michelle Obama

Wanneer ons praat oor vroueregte, kom aspekte soos stemreg, gelyke behandeling in die werksplek en die reg op gelyke betaling dadelik na vore. ’n Aspek wat egter minder aandag geniet, is die stryd van vroue vir deelname en gelykheid in sport.

Vroue in Amerika is net meer as ’n eeu gelede vir die eerste keer toegelaat om te stem en in Suid-Afrika het net ’n klein deel van die vroulike bevolking in 1930 stemreg verkry. Wat egter nie in die geskiedenishandboeke beklemtoon word nie, is dat vroue nie toegelaat is om aan die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 in Athene, Griekeland, deel te neem nie. Vroue is in 1900 vir die eerste keer in Parys, Frankryk, toegelaat om aan hul eie individuele items aan die Olimpiese Spele deel te neem. Uit die 1066 deelnemers vanuit 19 verskillende lande, was daar net 12 vrouedeelnemers. Die enigste twee individuele items vir vroue was gholf en tennis en die eerste vroulike Olimpiese deelnemer en wenner was Hélène de Pourtalès van Switzerland, wat deel van ’n seilspan was.

Vier jaar later, in die derde Olimpiese Spele in St. Louis, VSA, is ’n boogskietkategorie vir vroue bygevoeg, maar vir baie jare het manlike organiseerders beheer watter items as “vroulike sport” beskou word en waaraan vroue kon deelneem. Tot redelik onlangs was daar steeds groot ongelykheid in die hoeveelheid individuele items vir vroue teenoor dié vir mans. In 1980 was daar 50 individuele items vir vroue teenoor die 153 individuele items vir mans.

Oor die laaste 200 jaar het vroue die wêreld bietjie vir bietjie verander deur te bewys dat ons tot meer in staat is as wat vir ons voorgeskryf word. Alhoewel daar baie vordering was, is daar steeds baie beperkings – veral in sport. Vroue het hulle egter nie hierdeur laat keer nie en baie het – doelbewus – hierdie beperkings uitgedaag.

In 1967 het Kathrine Switzer die eerste vrou geword wat amptelik aan die Boston-marathon in Amerika deelgeneem het. Alhoewel daar geen amptelike verbod op deelname van vroue aan die marathon was nie, was daar nie vroue wat voorheen daaraan deelgeneem het nie. Switzer het vir die marathon ingeskryf en voorberei, maar daar is eers tydens die wedloop besef dat ’n vrou deelneem en die organiseerder, Jock Temple, het agter haar aangehardloop en haar fisiek uit die marathon probeer verwyder. “…he grabbed my shoulder and flung me back, screaming, ‘Get the hell out of my race and give me those numbers!’ Then he swiped down my front, trying to rip off my bib number…” Switzer se afrigter en haar vriend wat saam met haar gehardloop het, het haar teen Temple verdedig en sy het die marathon voltooi. Haar deelname het baie belangstelling uitgelok en sy het ná die tyd aan die pers gesê dat die ander deelnemers en toeskouers haar laat welkom voel het, ten spyte van die voorval.

Switzer se verhaal is een van baie. Buiten die reg om deel te neem, moet vroue uitdagings soos swakker betaling, erkenning en televisiedekking van vroue-sport in die gesig staar. Die Olimpiese kampioen Allyson Felix het die volgende gesê: “The biggest issues facing women in sports right now are visibility and respect. Women are still not given the same opportunities as men, and it does not seem like our accomplishments are viewed as being as impressive as men’s are.

“Unfortunately, over my career, I have not seen this change much, but it’s something that I believe in and am excited to help change in the future. These issues have impacted every aspect of my career. They impact the economics of my business, but they do not impact my worth or the way I view my accomplishments”.

Vroue het fisieke sowel as emosionele krag nodig om die uitdagings in die lewe en in sport aan te durf.

Met die verloop van tyd het ons bewus geword van ongelykheid en die belangrikheid om daarteen op te staan en mekaar te ondersteun. Daar is steeds ’n lang pad om te gaan, maar hopelik sal ons saam sterker word met elke tree en oorwinning.. Inge van der Westhuizen is ’n gr. 12-leerder aan die Hoër Meisieskool La Rochelle. Hierdie artikel het in die skool se koerant verskyn en is ook ingeskryf vir die Netwerk24-skolenuuskompetisie in die in-diepte-afdeling. Inge het nie net ’n benoeming ontvang nie, maar ook die afdeling gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article