‘n Vrou van die Paarl is amper deur ‘n bedrieër ingeloop wat hom as ‘n werknemer by Absa voorgedoen het, maar slimdink en ‘n kritieke denkwyse het haar waarskynlik van ‘n moontlike bedrogspul gered.
Die vrou, wat anoniem wil bly, deel haar storie om ander te waarsku sodat minder mense in hierdie lokval trap.
Sy vertel dat sy op 6 Augustus ‘n oproep ontvang het van ‘n man wat hom as Jayden Williams van Absa se bedrog- afdeling voorgestel het en omdat sy ‘n Absa-kliënt is, het sy die oproep beantwoord.
Die beweerde bedrieër het toe vir haar gesê hy het opgelet dat daar ‘n MTN-debietorder van R99 op haar bankrekening afgaan wat hy wil stop en dat haar bankkaart gekloon is.
Die Paarlse inwoner het toe dadelik onraad vermoed omdat sy nie ‘n MTN-kliënt is nie, maar het saamgespeel.
Die bedrieër het toe vir die Paarlse inwoner gesê hy het haar bankkaart gestop en toe gesê om ‘n bedrag van R2 950 “terug [in haar bank] te kry” gaan hy ‘n SMS stuur met die bank se finansiëlediensteverskaffer (FSP) se nommer. Sy het die SMS toe wel gekry, maar het weer eens onraad vermoed omdat daar ‘n bedrag van R2 950 op die SMS gestaan het en nie die R99 soos blykbaar afgegaan het nie.
Hy het ook vir haar sy personeelnommer gegee. Die bedrieër wou toe gehad het dat die Paarlse inwoner in haar bank se app ingaan om ‘n bedrag van R4 950 deur die “cash send“-funksie aan hom te stuur om die transaksie van MTN “te reverse“.
Hierdie versoek het haar egter nog meer agterdogtig gemaak, want nie net het sy nog nooit die cash send-funksie gebruik nie, maar het die bedrag en rede vir hierdie “cash send” ook nie sin gemaak nie.
Sy het toe gesê sy gaan dit nie doen nie, waarna hy gesê het hy gaan haar bankrekening vries – iets wat natuurlik nie gedoen is nie.
Die Paarlse inwoner het later uitgevind dat die maksimum bedrag wat via cash send gestuur kan word, R5 000 is – dus was die bedrieër net R50 onder hierdie limiet. Hierdie geld sou dan ook die bedrag gewees het wat hy vir homself sou inpalm, maar dansky die bron se vinnige optrede het hy dit nie reggekry nie.
Met die bron se besoek aan Absa waarheen sy dadelik gegaan het nadat die opoep met die bedrieër beëindig is, het hulle bevestig sy is bedrieg en dat haar rekening nie gevries is nie. Die bank het ook blykbaar gesê dat hulle en enige ander bank nooit vir ‘n kliënt ‘n One-time
Pin of pinnommer sal vra nie, asook nie ‘n kaartverifikasiewaardenommer (CSV) nie. Die bank het ook toevallig aan die bron genoem dat die personeelnommer wat die bedrieër vir haar gegee het, nie Absa se werklike personeelnommers weerspieël nie.
Haar raad aan ander is om die bedrogafdeling by hul onderskeie banke se nommer op hul foon te stoor sodat hulle dadelik kan sien dat die nommer verdag is wanneer ‘n bedrieër bel wat voorgee hy is van van hul bank se bedrogafdeling.





