Die vier trompoppies wat vir die SA span gekies is. Van links is Jayde-Lee Solomons, Quiwin Maasdorp, Courtney Williams en Hildene Johnson. Foto: Chantélle Hartebeest



Die Paarl is trots op vier trompoppie-lede van die dorp wat vir die nasionale span gekies is.

Quiwin Maasdorp, Hildene Johnson, Courtney Williams en Jayde-Lee Solomons sal Suid-Afrika in Augustus by die wêreld-trompoppiekampioenskap in Pole verteenwoordig.

Al vier atlete is lid van die plaaslike trompoppiespan, die CJP Majorettes.

Jamy Paulse, een van hul afrigters, sê al vier het hard gewerk om te kom waar hulle vandag is. Sy voeg by die sport is baie gefokus op dissipline en was eers net vir meisies. Dit het onlangs verander met die nuwe federasie, The Federation of Dance Drill, Cheerleading and Majorette Sport South Africa (FDDCMSA), wat aan bewind gekom het.

“Vandat dit gebeur het, sluit net meer en meer seuns by elke kompetisie aan. Ons het nou vier atlete wat gekies is om Suid-Afrika by die IAM- [International Association of Majorette Sport] kampioenskap te verteenwoordig.

“Dit is eintlik ’n groot sport en gee die kinders die geleentheid om die wêreld te sien, en nie net die Wes-Kaap nie. [Die sport bied] baie geleenthede. Dit is ’n sport vol dissipline en die kinders groei nie net in die sport nie, maar ook as ’n mens.”

Quiwin (15) is baie opgewonde dat hy as lid van die SA span gekies is. Volgens hom is dit nie ’n sport wat hy uit sy eie sou kies nie, maar hy het die sport ’n kans gegee omdat hy gesien het ander seuns doen dit. “Toe probeer ek dit ook, en namate ek dit beoefen het, het ek al beter gevaar,” sê Quiwin.

Vir Hildene (17) en Courtney (18) is dit nie die eerste keer dat hulle SA kleure kry nie. Dit is vir hulle albei ’n trotse oomblik om weer hul plek in die SA span op te neem.

Die pandemie het trompoppies – soos talle ander sportsoorte – vir twee jaar tot stilstand gebring. As gevolg hiervan kon geen kampioenskappe plaasvind nie.

Volgens Hildene beteken dit vir haar baie om ’n trompoppie te wees omdat sy nie ’n “susterbond” en die lesse wat sy leer, in ’n ander sport gaan vind nie.

Sy is trots dat sy die land kan verteenwoordig. “Ek is eerstens baie trots op myself, want vir my is dit ’n goal wat ek achieve het en ek wou baie graag in die SA span wees. Ek voel ek het baie hard gewerk om te kom waar ek vandag is, en ek voel ek verdien dit.”

Hildene voeg by: “Ek kan sien waarvoor ek met al die laat oefeninge gewerk het.”

Courtney vertel op haar beurt dit is die eerste keer dat sy oorsee sal reis. Sy neem al die afgelope tien jaar aan die sport deel. Sy is al in gr. 1 gefassineer toe sy die trompoppiespan by William Lloyd Primêr sien oefen het. Sy het eers ’n paar jaar later aangesluit toe ’n afrigter haar gevra het of sy belangstel.

Oor hul reis na Pole sê sy: “Dit beteken baie, want ek het nog nooit gereis nie, en veral nie so ver nie.”

Die geleentheid is ook ’n groot oomblik vir Jayde-Lee (12). Dit voel nog effe onwerklik vir haar, en soms selfs oorweldigend. Nietemin is sy nie een keer spyt oor al die harde werk wat sy in die sport ingeploeg het nie. “Ek is baie trots op myself. Soms is ek baie senuweeagtig om te reis, maar ek sal my senuweeagtigheid oorkom.”

Quiwin, Hildene en Courtney neem in die senior afdeling deel, terwyl Jayde-Lee in die junior afdeling deelneem. Hulle moet elkeen R30 000 insamel om die toer mee te maak.

Paulse verduidelik dat die geld deur verskeie saamtrekke ingesamel word. Die organisasie Heart NPO hou selfs ’n geldinsameling vir Hildene, wat deel van hul program is.

Verder wil Quiwin graag ander seuns wat aan trompoppies wil deelneem, maar te skaam is, aanraai om die sport uit te toets. “Dis niks om oor skaam te wees nie. Trompoppies gaan jou oor baie dinge leer – respek, maniere en ook harde werk.

“Dit gaan nie oor wat ander mense van jou sê nie – dit gaan net oor wie jy is.”. Paarl is proud of local four majorettes who have been selected for the national team. In August they will represent South Africa at the International Association of Majorette Sport Championship in Poland.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article