Dit is asof ’n rolprent voor Jesmaine Adams afgespeel het toe haar kêrel, Keanon de Klerk, op 26 November ewe skielik op een knie in Lady Grey-straat se Spur neersak, ’n ring uitpluk en haar vra om te trou.
Sonder ’n oomblik se huiwering het ’n verbaasde Jesmaine dadelik “ja” gesê, en die ring aan haar vinger bekyk.
“Dit was baie emosioneel,” het Jesmaine gesê, en verduidelik ’n hele vlaag emosies het by haar aangeklop, maar sy was só opgewonde en het Keanon en die hele restaurant met die ja-woord verras.
Jesmaine en Keanon, albei 26 en van die Paarl, is reeds ’n jaar en nege maande ’n paartjie en het in 2022 op Facebook ontmoet toe hulle begin gesels en uiteindelik nommers uitgeruil het.
Hoewel daar trou-praatjies tussen die paartjie was, het Jesmaine nie gedink dit gaan “so gou” gebeur nie, en het eers besef wat voor haar afspeel toe Keanon op die grond neersak.
“Ek was eers baie skaam en het gewonder wat aangaan, maar ek het dadelik ja gesê, want ek is baie lief vir Keanon.”
Volgens haar het sy niks verwag nie en het Keanon ook nie die geheim laat glip nie, maar het sy wel aangevoel iets is nie pluis nie toe haar verloofde uiteindelik opgestaan en gesê het hy gaan gou ’n entjie stap en hy sal “net-nou” terugkom.
Ná die ruk se stoom afblaas het hy weer sy verskyning gemaak, maar dié keer met die moed om die knoop deur te hak.
Wat die verlowing nóg meer spesiaal gemaak het, was die feit dat Jesmaine se twee kinders, een van nege-jarige ouderdom, en die ander een 10, ook teenwoordig was, en dit saam met Keanon beplan het, het Jesmaine verduidelik.
Volgens haar het verskeie klante die paartjie gelukgewens en het die bestuurder van die ketting-restaurant het hul ete as gratis aangekondig.
Verder het ’n fotograaf hulself beskikbaar gestel om die komende naweek verlowingsfoto’s van die paartjie te neem en iemand het Jesmaine ook ’n rok vir die spesiale fotosessie geleen.
Nog iemand het gazebo’s geborg vir die paartjie se troue, wat volgende jaar sal plaasvind.
Jesmaine is ’n kontrakwerker by ’n vrugteverpakkingsmaatskappy en Keanon ’n sekuriteitsbeampte.





