Een van die grootste fiesttoere in die Boland is terug – die Netwerk24 Paarl-fietstoer.



Die Faurestraat-stadion in die Paarl speel op 4 Desember vanjaar gasheer vir die langverwagte Netwerk24- Paarl-fietstoer.

Inskrywings is nou oop by www.devilliersnationalcycling.co.za en die wedren word ondersteun deur die Drakenstein-verkeersafdeling sowel as Drakenstein se nooddienste wat na die veiligheid van fietsryers sal omsien.

Jaers wat voor Vrydag 13 Mei inskryf, kry 20% afslag op hul inskrywingsfooi en ontvang ook vir twee maande gratis toegang tot Netwerk24 se digitale platforms.

Die wedren se logistiek en roetebeheer word deur De Villiers National Cycling hanteer, met die deurwinterde wedrendirekteur, Wynand de Villiers, aan die spits. De Villiers het die afgelope 21 jaar ’n verskeidenheid fietsrenne tot stand gebring en bestuur, insluitend die Tour du Cap, Boland 100 Miler, Die Groot Trap, Emperors Palace Classic, Satellite Classic, Berge en Dale, Jock-toer en die Montecasino Classico.

“Dis fantastiese nuus vir fietsry,” sê De Villiers. “Meer as 10 000 fietsryers het deelgeneem aan Die Burger-Sanlam-ren, soos die wedren histories bekend gestaan het.

“Met die ondersteuning van die Drakenstein-munisipaliteit het die Netwerk24-Paarl-fietstoer ’n geskikte tuiste in die Paarl, weg van die stad se geraas, in die hartjie van die Boland, wat dit veilig en verbruikersvriendelik vir fietsryers maak.

De Villiers sê sy span gebruik hul beproefde model van roetebeheer op die Netwerk24-Paarl-fietstoer.

“Ons bied nou al vir langer as 20 jaar fietsrenne aan en ons span het ’n merkwaardige begrip van die kragte wat op ’n roete inwerk en wat dit behels om ’n veilige ry-omgewing vir fietsryers te skep.

“Ons het oor die jare talle wedrenne tot stand gebring, insluitend die Emperors Palace Classic, wat van 500 jaers in die eerste jaar tot meer as 8 000 ryers tien jaar later gegroei het. Die Montecasino Classico, wat ons onlangs bekend gestel het, was die gasheer vir meer as 3 000 fietsryers in sy eerste aanbieding en 2 500 jaers het aan die onlangse Groot Trap in Pretoria deelgeneem.”

De Villiers sê die roete bied ’n gematigde uitdaging. “Om dit moontlik te maak vir soveel entoesiaste moontlik om deel te neem, het ons nie een van die bergpasse om die Paarl ingesluit nie. Ons wil dit graag toeganklik maak, maar in dieselfde asem bly dit ’n beduidende prestasie om die roete te voltooi. Om 105 km, of selfs 45 km, op ’n fiets te voltooi, is regtig iets om oor te kan spog,” sê hy.

Inskrywings:

105 km: R490 (R400 vir ryers wat voor 13 Mei inskryf);

45 km: R370 (R300 vir ryers wat voor 13 Mei inskryf). Besoek www.cycleevents.co.za


Netwerk24 is die digitale platform van Paarl Post, waar die koerant aanlyn gelees kan word.

. Enter the Netwerk24 Paarl Cycle Tour today and enjoy 20% discount on your entrance fee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article