Opod ondersoek saak ná Paarl-Oos-polisie man glo in selle skop, trap

Jerome Hoffman (39) het beserings aan onder meer sy ingewande, linkerarm en voorkop opgedoen toe hy glo deur lede van die Paarl-Oos-polisie in die polisiekantoor aangerand is. Foto: Rasaad Adams

Jerome Hofmann (39), ‘n Paarlse pa van vyf, eis die skorsing van minstens sewe polisiebeamptes

verbonde aan die Paarl-Oos-polisiekantoor, wat hom glo die aand van 4 Julie in die polisiekantoor se aanhoudingselle ernstig aangerand en “gemartel” het.

Hoffmann het ‘n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangemeld, wat nou deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word.

Dit volg nadat sy ingewande so ernstig beseer is dat die hospitaal sy maag moes oopsny.

Volgens Hoffman het hy en ‘n vriend daardie aand in die straat gekuier toe hulle deur die polisiebeamptes in twee voertuie gekonfronteer is.

Hy sê hy het bloot die beamptes aangespreek oor die ongeskikte wyse waarop hulle met hom en sy vriend gepraat het, waarna hy toe in een van die polisievoertuie gesmyt is.

“Daar was so sewe van hulle. Hulle het op my gevloek en geskel en my vriend het toe weggeloop. Ek het net gevra hoekom hulle so ombeskof is, toe word ek sommer gelaai.”

Hy sê met sy aankoms by die selle het die houe sommer dadelik op hom begin val.

“Ek is geskop en getrap. Die ligte is afgesit. Hulle het water op my gegooi wat my sig belemmer het. Ek kon nie hul gesigte uitken nie,” vertel hy.

“Ek is nie eenkeer gesê hoekom ek gelaai is nie. Hulle was net daarop uit om my seer te maak.”

Hy vertel dat hy vir etlike ure daar in pyn gelê het.

“Ek het toe later een van die polisiemanne wat aan diens was, gevra om my asseblief huis toe te neem. Ek kon nie meer die pyn verduur nie.

“Hy het my toe naby die huis afgelaai, maar selfs hy was ongeskik en het gesê dis reg dat ek so ged*nner is.”

Volgens Hoffman het sy vrou die volgende oggend ‘n ambulans laat kom.

Hy was vir vyf dae in die hospitaal.

Sy mediese verslag, wat Paarl Post onder oë gehad het, toon dat hy beserings aan sy ingewande, rektum, voorkop en arm opgedoen het.

Sy inwendige beserings was só ernstig dat die hospitaal hom deur sy maag moes opereer om dit te behandel.

Nadat hy ontslaan is, het hy die aanranding die afgelope Vrydag (11 Julie) met die hulp van die gemeenskapsleier en aktivis Marthinus Gouws by die polisiekantoor gaan aanmeld.

Kapt. Basil Seekoei, ‘n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het by navraag bevestig dat ‘n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, aangemeld is en deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word. Seekoei het die koerant vir verdere navrae na Opod verwys.

Gouws het die voorval ten sterkte veroordeel.

“Hierdie polisiewreedheid is geheel en al onaanvaarbaar. Ons eis die onmiddelike skorsing van die betrokke beamptes.

“Dit is ‘n blatante skending van menseregte en inderwaarheid is dit ‘n saak van poging tot moord.”

Volgens Hoffman gaan hy as deel van die ondersoek eis dat die kringtelevisiebeeldmateriaal ondersoek moet word. “Daai kameras behoort alles vas te gevang het. Dit sal kan wys wie die beamptes is en wat hulle aan my gedoen het.

“As dit skielik nie gewerk het nie, is dit ‘n bewys van die bedrog by daai stasie en hoe hulle mekaar beskerm,” sê Hoffman.

Phaladi Suping, ‘n Opod-woordvoerder, het by navraag aan Paarl Post bevestig dat hulle wel die saak ondersoek.

“Die presiese aantal polisielede wat na bewering betrokke is, sal eers bekend wees wanneer die ondersoek afgehandel is.

“Almal wat met inligting kan help, sal gekonsulteer word,” het Suping gesê.

Volgens Suping is Opod nie betrokke by kwessies van skorsing nie, “aangesien dit ‘n saak tussen die werkgewer en werknemer is”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article