Ek sit gisteraand weer by ’n paraffien-lantern langs my mooi swembad in die agterplaas waarvoor ek self gewerk en betaal het.
Ek is dankbaar vir nóg so wonderlike, mooi aand in die Paarl.
En tog . . . in my agterkop sing die feit dat ons krag omtrent tans alle dae af is van 16:00 tot 22:00.
Nié omdat ek nie betaal het nie! En nié om enige rede waarvan ek die oorsaak is nie.
Dan weet ek: Om in Afrika die mag oor ’n land te wen bloot omdat jy die meeste is, is een ding.
Om daai land wat jy bloot met getalle ingepalm het, te bestuur – let wel nie regeer nie – vat ’n man op ’n perd.
Wie is daai man dan?
Wat wys die verlede ons?
Kyk maar net na die nuwighede van resente tye:.Stop-go’s as gevolg van moer-toe-paaie;. Beheerlose en skrikwekkend gevaarlike padverkeer as gevolg van, onder meer, vragmotors en taxi’s wat ry soos hulle wil;. Covid-19 se verwarrende hantering van my en my fellow South Africans;. nou dié drakoniese, skandalige beurtkrag; en. skielik kry Zuma ’n nuwe regter en begin sy hofsaak van voor af.
Hoe werk dit?
’n Mens wonder nie meer nie – jy weet en voel en ervaar die feit dat die Dunning-Kruger-effek, wat gedefinieer word as “a type of cognitive bias that causes people to overestimate their knowledge or ability, particularly in areas with which they have little to no experience”, al hoe meer manifesteer in dié dinge wat die man en vrou op straat morbied-verslae laat.
Dit maak ons kinders en kleinkinders só verwilderd dat hulle koers kies buiteland toe en ons land, selfs binne Afrika-konteks, bespotlik uitmaak.
Ons land benodig ingryping van ons mense om nie meer sulke realiteite te duld nie!




