‘n Nuwe residensiële ontwikkeling, genaamd Upper Bosman Estate in Upper Bosmanstraat, word in die Hoog-en-Droog-gebied in die Paarl, bestaande uit slegs enkelverdiepingstrukture, beplan.
Volgens Seraj Johaar, die Drakenstein- munisipaliteit (DM) se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, is die nodige studies ingedien voordat die DM ‘n grondgebruikaansoek vir ‘n residensiële ontwikkeling op die private eiendom goedgekeur het.
“Die grondgebruikaansoek is goedgekeur onder die streng voorwaardes dat die ontwikkeling tot enkelverdiepingstrukture beperk word en dat so min as moontlik grondverskuiwing moet plaasvind.”
Die aansoek is in Paarl Post geadverteer en kennisgewings is op die eienaars van omliggende eiendomme bedien in ooreenstemming met die standaard wetlike vereistes.
Volgens Johaar is bouplanne nog nie by die munisipaliteit ingedien nie, dus kan die munisipaliteit nie bevestig wie die eiendom gaan ontwikkel of wanneer dit gaan begin nie.
Die ontwikkelaar moet betaal vir die installering van interne dienste en die opgradering van eksterne dienste. Gedetailleerde water- en rioolkapasiteitsontledings is ook tydens die goedkeuringsproses gedoen en alle opgraderings wat geïdentifiseer is, moet deur die ontwikkelaar gefinansier word.
Namat nuwe residensiële ontwikkelings in die Drakenstein toenemend die kop uitsteek, ontstaan toenemende vrae by inwoners oor hoe sulke projekte goedgekeur word en, belangriker, of die bestaande infrastruktuur die groeiende aantal inwoners kan dra.
Ontwikkeling
Luidens Johaar beskik die DM oor ‘n “ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (spatial development framework) wat die munisipaliteit as sy kern-beplannings-
instrument gebruik om die DM se ruimtelike visie, rigting en ontwikkelingspatrone uiteen te sit”.
“Die munisipaliteit oorweeg aansoeke om eiendomsontwikkeling volgens dié raamwerk… [en] op sy eie meriete,” het Johaar verduidelik.
Die DM sê egter elke ontwikkelingsaansoek word streng beoordeel om te verseker dat voldoende water-, riool- en ander munisipale dienste beskikbaar is voordat die groen lig gegee word.
“Die verordening op munisipale grondgebruikbeplanning [van] 2018, bepaal dat die DM ‘n ontwikkelingsaansoek beoordeel in terme van die uitwerking wat die nuwe ontwikkeling op munisipale ingenieursdienste (insluitend water- en rioolkapasiteit) sal hê. Tydens die beoordeling sal die eiendomsontwikkelaar ingelig word oor enige beperkings en opgraderings wat deur die ontwikkelaar gefinansier moet word,” volgens Johaar.

Indien geen aanvaarbare oplossing vir infrastruktuur-uitdagings bestaan nie, sal die munisipaliteit nie die voorgestelde ontwikkeling goedgekeur nie.
Genoeg water
Nog ‘n onsekerheid is of die munisipaliteit oor genoeg water beskik, veral omdat damme se watervlak tans weekliks daal weens die winterreënval wat verlede seisoen teenoor vorige jare soveel minder was.
“Die DM se wateraanvraag word bestuur deur voortdurende beplanning, infrastruktuurbeoordelings en bewaringsprogramme, soos vervat in ons ingenieursdienste-meesterplanne,” het Johaar verduidelik. “Dit behels dat moontlike watertekorte geïdentifiseer word en die munisipaliteit maatreëls toepas om inwoners te beskerm, asook om te verseker dat nuwe ontwikkelings volhoubaar bly.”
Die munisipaliteit verseker langtermynwatersekerheid deur verskeie verordeninge en beleidsrigtings, byvoorbeeld sy waterbestuur-en-verliesebeheerbeleid, waterdienste-ontwikkelingsmeesterplan en sy grootmaatwatervoorsienings- en afvalwaterstelsel-meesterplan”.
“Hierdie beleidsrigtings en planne identifiseer sleutelkapitaal-infrastruktuurprojekte, soos die opgradering van reservoirs, behandelingsaanlegte en pypleidings, wat deur ‘n verskeidenheid finansieringsbronne, insluitend die munisipale begrotings, eksterne toekennings en ontwikkelaarsbydraes, gefinansier word.”
Buiten die Upper Bosman Estate is vyf residensiële eenhede onlangs in Enslinstraat, ook in Hoog-en-Droog, goedgekeur, wat ongeveer 20 mense kan huisves.





