In September sal die publiek weer eens getrakteer word met als wat kaas is, wanneer die SA Kaasfees weer plaasvind.Foto:

Credit: SYSTEM

Die groot gewag is verby – die bekroonde Suid-Afrikaanse Kaasfees maak vanjaar ’n terugkeer in Stellenbosch met nuwe datums én nuwe eienaars.

Die Sandringham-landgoed sal vanjaar gasheer speel vir dié buitelug kulinêre geleentheid oor die Erfenisdag-langnaweek van Vrydag 22 tot Maandag 25 September.

Die nuwe feeseienaars, ’n konsortium van private beleggers en die DGTL Marketing Group, het die gewilde fees herontwerp om ’n vier dae lange viering rondom kaas, wyn en vermaak vir die hele gesin te skep.

Die SA Kaasfees, wat bekend is as Suid-Afrika se enigste kaas-gefokusde geleentheid, is reeds sedert 2002 as ’n tradisie in die Kaapse Wynland gevestig. Die nuwe eienaars beskik oor uitgebreide kundigheid in die organisering, bemarking en aanbieding van leefstylgeleenthede reg oor die land, wat die SA Kaasfees nuwe hoogtes sal laat bereik. Besoekers kan ’n uitmuntende ervaring verwag met nuwe lewe wat in die fees geblaas word.

Besigheid-sessies, ’n Vrydagaand-musiekfees en ’n karnaval-temapark

Die SA Kaasfees sal op Vrydag 22 September met besigheid-tot-besigheid (B2B) gefokusde sessies afskop om handel tussen uitstallers en kopers van groot kleinhandelwinkels aan te moedig.

Die fees open dan amptelik met ’n musiekfees op die Vrydagaand. Oor die langnaweek van Saterdag 23 tot Maandag 25 September sal meer as 150 uitstallers die publiek verwelkom met net die beste kaas-aanbiedinge, asook ’n veelsydige keuse van ander kossoorte en ’n verskeidenheid wyn- en boetiekbier-handelsmerke.

Gewilde plaaslike kunstenaars sal musiek maak, terwyl topklas-kindervermaak en karnaval-styl pretpark-aktiwiteite die hele gesin sal vermaak.

Een van die toevoegings tot die fees is gasvryheidsopsies wat aan vennote en borge beskikbaar gestel word. Private of gedeelde gasvryheidsuites met toegewyde fasiliteite en unieke ervarings sal aangepas word volgens die behoeftes van die borge.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article