Newton se agsteman, Colin April, gaan oor vir sy span se drie.

Credit: SYSTEM

Die Bombela-masjien het behoorlik op alle silinders geloop toe hy die naweek met ’n hoogs gemotiveerde Hillcrest-span afgereken het.

Dit was ook die jaarlikse Pienk vir Kanker-dag en mense het in groot getalle opgedaag om die inisiatief te ondersteun.

Die wedstryd het teen ’n snel pas afgeskop en Newton het al die aanvalswerk gedoen. Dit was egter sy spoedvraat Mangena wat eerste bloed geruik het met ’n onderskepdrie.

Newton het onmiddellik teruggeslaan met ’n drie deur Keaton Booysen (vleuel) toe hy twee teenstanders in die lug laat gryp het.

Hierna het die belowende Collin April (agsteman) steelkant gebreek en vir sy eerste drie oorgegaan. Hierdie speler is seer sekerlik die vonds van die seisoen en die Boland-keurders kan hom gerus dop­hou.

Die generaal, Wilfred Bowers (losskakel), het hierna eers ’n skepdoel uitgevoer en toe self deurgebreek vir ’n drie.

Die manne het rustyd gaan water drink met Newton stewig in die saal met 22-8.

Newtons het weer eens bewys waarom sy agterlyn so hoog geag word in die Boland en het telkemale die skare op hul voete gehad met hul hardlooplyne.

Hillcrest het egter geweier om te gaan lê en het met twee vinnige drieë geantwoord. Die telling was skielik 22-20 in Newton se guns.

Met slegs 10 minute speeltyd oor het die grootste drama ontvou toe Hillcrest ’n strafskop oorgeklits het om vir die eerste keer in die wedstryd met 22-23 voor te loop.

Dit het gelyk asof Newton net outomaties na ’n hoër rat oorgeskakel het nadat die belowende Colin April van ’n skrum af die bal opgetel en oorgebars het vir sy tweede drie.

Die laaste drie was egter ’n juweel toe die flank Riaan en senter Shane-Cole Williams goed die lyn gebreek het en met ’n perfekte aangee vir Gary Williams (slot) oorgestuur het vir ’n drie onder die pale. Hillcrest se doppie was finaal geklink.

Enrico Claasen (flank) het op net die regte tye omgekeerde besit verseker en ’n paar kritieke duikslae uitgevoer en is heel gepas as die speler van die wedstryd aangewys.

Newton het die stryd met die eindtelling op 36-23 gewen.. Saterdag speel Newton in nog ’n derby teen die Wellington-rugbyklub op die Boland B-velde.

Die tweede span het Saterdag ongelukkig met 22-6 vasgeval, maar die derde span het 15-5 gewen.

Newton het ook nog ’n buitekans vir die uitspele (Top-12) indien hy al sy oorblywende wedstryde wen.

Alle paaie loop na die Boland-stadion, vir nog opwindende liplekker hardloop­rugby.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article