Die jaar is nog baie jonk en dis vir my hartseer om te hoor dat mense reeds afgemat en moeg is van die jaar.

As ’n mens moet ons onthou dat ons liggaam en gedagtes ook ’n blaaskans nodig het. Ons wag soms tot wanneer ons op ’n breekpunt is voordat ons besluit dit is tyd om af te skakel.

Om gereeld ’n ruskans te neem, is nie ’n sonde, en nog minder ’n skande. Elkeen het so nou en dan net ’n paar oomblikke nodig om sy of haar onsigbare batterye te herlaai.

Sedert die koronavirus-pandemie in 2020 die kop uitgesteek het, het die lewe soos wat ons dit geken het, halsoorkop verander. Ons het van die huis af gewerk en dit het gevoel asof daar nooit ’n einde aan jou werksdag was nie, want jy kon enige tyd van die dag of nag aanskakel om jou werksverantwoordelikhede na te kom.

Dit lyk vir my dit is nou al so in ons ingeboor om aanhoudend te werk – sonder ophou – maar dit is baie ongesond; verskriklik ongesond.

Ons vat nie ’n ruskans om iets prettig te doen in ons vrye tyd of om net agteroor te sit en te ontspan nie. Daar is altyd iets wat ons jaag; iets wat dringend aandag verg, behalwe die besorgdheid van ons geestesgesondheid.

Met die agt maande van 2023 wat nog voorlê, is my wens dat elkeen minstens een keer ’n week ’n bietjie stoom afblaas deur sport, te sit en lees of te dans. Dan kan ons elke week opnuut begin met ’n nuwe ingesteldheid en lus vir die lewe.

Só leer ons ook die volgende geslag om net soveel aandag aan hul gesondheid en geestesgesondheid te gee sonder om sleg te voel daaroor.

Nog ’n herinnering – om so af en toe ’n blaaskans te neem, maak nie van jou ’n lui mens nie. Waardeer die gesondheid wat jy het en sien om daarna terwyl jy terselfdertyd ook hard aan jou drome werk.

’n Treffende aanhaling van die skrywer Ali Washington lui: “By taking care of myself I have so much more to offer the world than I do when I am running on empty.


Edith Alice,

paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article