Die Cannabis-ekspo keer in Maart na Kaapstad terug met meer as 150 uitstallers wat die breë spektrum van die daggabedryf verteenwoordig.
Dit word van 24-27 Maart in GrandWest aangebied en sluit uitstallings, gespreksessies, ’n kosmark en vermaak in.
Die organiseerders sê die ekspo sal na verwagting vanjaar nog groter wees, danksy die regering wat in die jongste staatsrede hernude fokus op die bedryf geplaas het. Hulle beskryf die ekspo in ’n verklaring as vier dae wat alle aspekte van dagga dek – van gesondheid en sake tot landbou en produkte.
Benewens die talle uitstallers van alle geure en giere van hierdie omstrede bedryf, sal daar verskeie insiggewende werksessies en praatjies oor die onderwerp en veral sy mediese en gesondheidsvoordele deur kenners in die aangebied word.
Die “grootste daggabyeenkoms op die vasteland” maak volgens die organiseerders sy terugkeer ná twee jaar van afwesigheid weens die Covid-19-pandemie.
’n Nuwe toevoeging tot die ekspo is die JuicyFields Freedom Festival wat ’n “buitelugfees-omgewing” skep met ’n verhoog waar kunstenaars gaan optree.
Die Cannabis-ekspo is van Donderdag 24 tot Saterdag 26 Maart van 10:00 tot 18:00 oop en Sondag 27 Maart van 10:00 tot 16:00. Vir meer inligting en om kaartjies te bespreek, besoek www.thecannabisexpo.co.za



