Ja, die gewilde Eseltjiesrus Donkey Sanctuary se jaarlikse Boekefees is terug!
Die boekefees vind ná ’n onderbreking van twee jaar weens Covid-19-inperkings weer plaas – van Donderdag 16 tot Saterdag 18 Junie. Dié bielie van ’n boekverkoping word in die NG kerk Robertson-Oos se kerksaal in Van Zylstraat gehou.
Vanjaar word ’n magdom boeke – meer as 14 000 – aangebied waarvan sowat die helfte splinternuut is. Dit is al beskryf as “die grootste Boekemark in die Wes-Kaap” met vragtevol winskopies. Skaars en buitengewone boeke, kinderboeke, kookboeke, reisverhale, geestelike boeke, fiksie en nie-fiksie – noem maar op, dis daar!
Dit algehele opbrengs van hierdie geleentheid word aangewend om bejaarde en verwaarloosde donkies wat uit haglike omstandighede gered is, te versorg. Eseltjiesrus bied hulle ’n permanente en veilige tuiste.
Donkies word gereeld gespot en geminag, maar ten spyte hiervan is hulle saggeaard en herken hulle swaarkry in mense. Hulle leer die mens gedurig dat nederigheid ’n teken van krag is, eerder as ’n swakheid.
Wen ’n geskenkbewys!
Vir die volgende drie weke gaan twee lesers van hierdie koerant elke week die kans kry om ’n lekker meevallertjie te wen, naamlik ’n koopbewys van R150 elk. En dis so maklik!
Stuur hierdie week bloot die woord boekeparadys per WhatsApp na 066 484 3728 voor 12:00 op Maandag 30 Mei.. Kontak info@donkeysanctuary.co.za of skakel 023 625 1593 met enige navrae en onthou, die donkies by Eseltjiesrus op McGregor verwelkom besoekers: Donderdae tot Sondae van 10:00 tot 16:00.




