Die Hooggeregshof in Pretoria het vandeesweek bevind dat matriekuitslae gepubliseer mag word op openbare platforms. AfriForum het die beslissing verwelkom en beskou dit as ’n oorwinning vir alle betrokkenes, maar veral vir die beskerming van die openbare belang.
Die uitspraak is vanoggend (12 Desember) deur ’n volbank regters gelewer. Die hof het bevind dat die Inligtingsreguleerder (IR) se argument dat leerders mekaar se eksamennommers sal memoriseer om uitslae te ontleed, eenvoudig onrealisties is.
Regters het verder beslis dat die publikasie van uitslae met slegs eksamennommers voldoende beskerming vir matrikulante se privaatheid bied. ’n Kostebevel is ook ten gunste van AfriForum en die mediahuise wat as respondente opgetree het, gemaak.
Die saak oor of matriekuitslae in koerante en ander openbare platforms bekend gemaak mag word, is op 27 en 28 Oktober in die einste hof aangehoor.
Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, dateer die geskil uit 2022 toe die Departement van Basiese Onderwys die publikasie van uitslae probeer verbied het. Regsaksie wat gevolg het, het destyds tot ’n bevel gelei dat die uitslae in openbare belang gepubliseer moet bly.
Bailey verduidelik dat die Inligtingsreguleerder aan die einde van verlede jaar weer probeer het om bekendmaking van die 2024-matriekuitslae te verhinder. Die poging om ’n interdik te verkry het egter misluk, waarna die huidige saak oor die meriete aangehoor is.
Sy sê matrikulante vra AfriForum jaarliks om te help verseker dat uitslae steeds in die media beskikbaar sal wees. Die organisasie het daarom ook duidelikheid gesoek oor wanneer privaatheid beskerm moet word en wanneer openbare belang swaarder weeg.
“Die uitspraak in hierdie saak dra by tot meer sekerheid hieroor,” sê Bailey. “Vanjaar se matrieks en dié wat nog volg, sal steeds toegang tot hulle uitslae hê en AfriForum is dankbaar dat ons hulle regte in hierdie verband kon beskerm.”




