Foto ter illustrasie. Foto: Pexels

Massiewe leesgebrek by kinders ‘kommerwekkend’


Kinders moet nie net leer lees nie, maar ook verstaan wat hulle lees.

Dr. Mitchell Messina, opvoedkundige konsultant en spesialis in Keuseteorie, sê in die jongste Progress in International Reading Literacy Studies (Pirls) -navorsing is bevind dat 81% van Suid-Afrikaanse gr.4-leerders nie in enige taal met begrip kon lees nie. Hy beskryf dit as kommerwekkend.

Internasionale Geletterdheidsdag word sedert 1967 jaarliks op 8 September gehou om die belangrikheid van geletterdheid te beklemtoon.

Geletterdheid is ’n fundamentele mensereg en bied toegang tot groter vryhede en kennis. Volgens Unesco het minstens 739 miljoen jongmense en volwassenes wêreldwyd in 2024 steeds nie basiese geletterdheidsvaardighede gehad nie.

In 2026 word die 60ste herdenking van Internasionale Geletterdheidsdag gevier.

Volgens Messina is die gaping tussen grondslagfase en inermediêre fase een van die groot uitdagings.

“In die grondslagfase leer kinders lees, terwyl hulle in die intermediêre fase moet begin lees om te leer. Baie leerders kan nog nie lees wanneer hulle in gr.4 kom nie,” sê Messina.

Dit plaas volgens die voormalige skoolhoof groot druk op gr.4-onderwysers, wat leerders moet leer lees én verstaan wat hulle lees.

Leesbegrip moet daarom doelbewus onderrig word, aldus Messina.

Hy sê leerders moet onder meer leer om te verduidelik waaroor ‘n teks gaan, vrae te vra, woorde en idees wat hulle nie verstaan nie te verklaar en die belangrike inligting op te som.

Een benadering hiervoor is resiprokale of wederkerige onderrig, aldus Messina. Dit fokus volgens hom op vier vaardighede: voorspel, vrae stel, verklaar en opsom.

Messina sê leesstrategieë alleen is egter nie genoeg nie.

“Onderwysers moet ook verstaan hoe om ’n klaskameromgewing te skep waarin leerders bereid is om deel te neem, te dink, vrae te vra en verantwoordelikheid vir hul leer te aanvaar,” beklemtoon hy.

Messina meen oorvol klasse, uitdagende gedrag van leerders en beperkte hulpbronne maak dit moeiliker om leesbegrip doeltreffend te onderrig.

Keuseteorie kan volgens Messina help om beter verhoudings tussen onderwysers en leerders te bou en leerders aan te moedig om verantwoordelikheid vir hul eie leer te aanvaar.

Hy meen onderwysers moet eerder met praktiese kennis, vaardighede en ondersteuning bemagtig word as om vir die leeskrisis blameer te word.

Ouers kan ook help deur tyd te maak om saam met kinders te lees.

Messina sê kinders moet dit geniet om te leer lees en aangemoedig word om biblioteke te gebruik.

Groter samewerking tussen gr. 3- en gr. 4-onderwysers kan volgens hom ook die oorgang tussen die twee fases vergemaklik.

Die uiteindelike doel is volgens Messina vir kinders om van “leer lees” na “lees om te leer” te beweeg.

Kinders wat nie met begrip kan lees nie word volgens Messina uiteindelik grootmense wat nie kan lees met begrip nie, en dit affekteer alles: Mense se gesondheid indien hulle nie hul voorskrifte kan lees nie en selfs hul persoonlike lewe omdat dit so maklik is om boodskappe verkeerd te interpreteer as jy nie met begrip lees nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article