September staan bekend as internasionale kinderkankerbewustheidsmaand, dit is belangrik om die tekens van kinderkanker vroeg op te merk en toetse te laat neem. Foto: Pexels

Ken die waarskuwingstekens van kinderkanker

September staan bekend as internasionale kinderkankerbewustheidsmaand, dit is belangrik om die tekens van kinderkanker vroeg op te merk en toetse te laat neem. Foto: Pexels

‘n Wit kol in ‘n kind se oog, ‘n onverklaarbare koors wat langer as twee weke duur of ‘n pynlose knop kan tekens wees van iets wat mediese aandag vereis.

September is kinderkankerbewustheidsmaand en dit vestig die aandag op dié en ander waarskuwingstekens, asook die belangrikheid van vroeë diagnose.

Prof. Anel van Zyl, die hoof van die pediatriese onkologie-eenheid by die Tygerberg-hospitaal en die fakuliteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, sê kinderkanker het dikwels ’n hoë genesingsyfer – veral wanneer dit vroeg gediagnoseer word.

“Indien enige van die vroeë waarskuwingstekens opgemerk word, moet kinders deeglik ondersoek word om die oorsaak te bepaal,” sê Van Zyl.

Sy sê indien ‘n kind vermoedelik kanker het, moet hy of sy dadelik na die naaste pediatriese onkologie-eenheid verwys word.

Volgens Van Zyl is leukemie, limfoom, breinkanker, nierkanker (nefroblastoom) en sagteweefselsarkoom (rabdomiosarkoom,) van die algemeenste kankers onder kinders. Dit is volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Kankerregister se kinderverslag van 2022-2023.

Die St. Siluan-vroeëwaarskuwingstekens is in Suid-Afrika ontwikkel om die publiek en gesondheidswerkers bewus te maak van moontlike tekens van kinderkanker.

Dit sluit veranderinge aan die oë in, soos ‘n wit kol, ‘n nuwe skeelheid, skielike blindheid of ‘n oog wat uitbult.

Ongewone of pynlose knoppe aan die maag, bekken, kop, nek, arms, bene, testes of kliere kan ook ondersoek moet word.

Ander tekens sluit in ‘n onverklaarbare koors wat langer as twee weke duur, merkbare gewigsverlies, aanhoudende moegheid, bleekheid en maklike kneusing of bloeding.

Aanhoudende pyn in die bene, gewrigte of rug, asook maklike of onverklaarbare beenbreuke is verdere waarskuwingstekens.

Ouers moet ook let op neurologiese veranderinge, soos probleme met loop, balans of spraak, die verlies van ontwikkelingsmylpale, aanhoudende hoofpyne wat dikwels met vroeë oggendbraking gepaardgaan, of ’n vergroting van die kop by babas.

Van Zyl beklemtoon dat die simptome nie noodwendig beteken dat ‘n kind kanker het nie, angesien verskeie ander mediese toestande dieselfde tekens kan veroorsaak.

Die oorsaak kan slegs met ‘n deeglike ondersoek bepaal word, sê Van Zyl.

Kinders in die Wes-Kaap by wie kanker gediagnoseer is, word by die Tygerberg-hospitaal en die Rooikruis-kinderhospitaal behandel. Volgens Van Zyl is daar geen waglyste vir kinders om tot dié eenhede toegelaat te word nie.

Sommige kinders word egter laat gediagnoseer omdat mense nie altyd aan kinderkanker as ‘n moontlike oorsaak van hul simptome dink nie.

Kinderkanker verskil ook van kanker by volwassenes, wat dikwels met leefstylfaktore soos rook, dieet en alkoholverbruik verbind word.

Kinderkanker is volgens Van Zyl nie grootliks voorkombaar soos baie van die kankers onder volwassenes nie.

Sy sê kinderkanker reageer gewoonlik baie goed oo chemoterapie en kinders verdra intensiewe behandeling dikwels beter as volwassenes. Oorlewingsyfers is daarom dikwels hoër as dié van volwassenes met kanker.

Die behandeling van kinderkanker gaan egter gepaard met groot uitdagings vir kinders en hul families, wat ondersteuning op verskeie gebiede benodig, sê Van Zyl.

Sy voeg by verskeie organisasies sonder winsoogmerk bied finansiële en psigososiale ondersteuning, toerusting soos rolstoele en spesiale matrasse, palliatiewe sorg en ontspanningsaktiwiteite.

By die hospitaal ontvang kinders en hul families volgens Van Zyl ondersteuning van die onkologie-eenheid se personeel, maatskaplike werkers, dieetkundiges, fisioterapeute, arbeidsterapeute, sielkundiges en ander professionele mense.

Van Zyl sê die Tygerberg-hospitaal beskik selfs oor ‘n hospitaalskool, waar kinders met hul skoolwerk kan voortgaan wanneer hulle gesond genoeg voel.

Volgens haar bied die staat verder gemeenskapsdienste deur verpleegsorg en opvolgondersteuning by die huis. Ná behandeling word kinders ook op die lang termyn opgevolg om moontlike fisieke of psigososiale komplikasies te monitor, sê Van Zyl.

Kinderkankerbewustheidsmaand is volgens Van Zyl ook ’n geleentheid om bewusmaking te verhoog oor die uitdagende reis wat kinders met kanker en hul families deurmaak en die ondersteuning wat hulle benodig.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article