Toe ’n paar meubelstukke onlangs een vir een soos mis voor die son verdwyn by ’n plaas in Groot Drakenstein, het die plaasbestuurder onraad vermoed en die plaaslike polisie in kennis gestel.
Eers het tafeltjies van die plaas af verdwyn, maar toe ’n man met ’n stoel verby die polisiekantoor loop, het dit ’n klokkie gelui by ’n polisiebeampte wat hom gewaar het.
“Op Donderdag 9 Maart omstreeks 17:00 het skoflede ’n man verby die stasie met ’n stoel sien stap. Toe beamptes hom nader en vra waar hy die stoel gekry het, het een van die beamptes dit dadelik herken as ’n nabygeleë plaas se tuinstoel. Die bestuurder van die plaas is gekontak en hy het bevestig [dat dit die gesteelde stoel is] en het ook genoem dat vier tuintafels ook gesteel is,” sê sers. Julian Martin, woordvoerder van Groot Drakenstein-polisie.
By verdere ondervraging het die 27-jarige Paul Mizen aan die beamptes erken dat hy die stoel op die einste plaas gesteel het.
“Hy het ons meegedeel dat hy oor ’n tydperk van twee weke die stoel en tafeltjies weggedra het en genoem waar die ander artikels gestoor was,” sê Martin.
Die verdagte is in hegtenis geneem en aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Hy het op Maandag 13 Maart in die Franschhoek-landdroshof verskyn. Hy het skuld beken en het ’n opgeskorte vonnis gekry.
. A man (27) was arrested by the Groot Drakenstein police for stealing pieces of furniture on a farm in the area. He was given a suspended sentence.





